Ongehoorsame kinders is geen nuutjie nie. Party van ons Kopskuif-Onnies is raadop met kinders wat die klaskamer ontwrig. Hoe gemaak wanneer ’n kind eenvoudig nie wil luister nie?
Volgens Catherine Radloff, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, is dit normaal vir kinders om in die een of ander stadium ongehoorsaam te wees. Wanneer hierdie wangedrag egter aanhoudend is en met die algehele welstand van die kind begin inmeng, is dit heel moontlik ’n teken van ’n tipe emosionele probleem of selfs ’n uitroep om hulp.
“In die meeste gevalle wat na my toe verwys word, is die oorsaak van wangedrag ’n onderliggende emosionele- of leerprobleem wat nog nie aandag gekry het nie,” sê Catherine.
“Jong kinders het dikwels nie die vermoë om hul ervarings op ’n volwasse manier te kommunikeer nie. Wanneer daar nie in hul emosionele behoeftes voorsien word nie, gee hul uiting daaraan op verskeie maniere.”
Onderwysers moet dan dikwels hierdie ontwrigtende optrede in die klaskamer aanspreek, veral wanneer dit die leeromgewing en ander leerders begin beïnvloed. Catherine deel raad met onderwysers wat koppige kinders in die klas moet hanteer:
Laerskoolkinders:
- Sterkaarte is lekker manier om goeie gedrag te monitor en te beloon. Die onderwyser én die leerders het dan ’n visuele manier om die kind se vordering dop te hou.
- Gee die klasontwrigter ’n goeie rede om die klas te verlaat, soos om namens jou na ’n ander onnie se klas toe te gaan.
- Skep’n veilige ruimte in die klas waar probleemkinders kan gaan sit en oor hul optrede nadink. Rus hierdie “gelukkige hoekie” toe met sagte kussings, speelgoed of boeke.
- Die onderwyser en leerder kan ’n subtiele teken ontwikkel, byvoorbeeld om aan die leerder se skouer te raak of liggies op sy lessenaar te tik, wat die leerder herinner om aandag te gee of te kalmeer.
- Leer kinders die verkeersligbeginsel: Stop, dink en doen. Rooi dui daarop die leerder moet stop waarmee hy/ sy besig is, oranje herinner die leerder om te dink oor hoe hy/ sy behoort op te tree en groen is die teken dat hy/ sy reg optree. Plak sommer die “verkeerslig” iewers in die klas op sodat jy eenvoudig na die plakkaat kan wys.
Hoërskoolleerders:
- Moet nooit leerders voor hul portuurgroep in die verleentheid stel of verkleineer nie. ’n Rustige gesprek buite die klas kan baie help om die probleem op ’n kalm manier op te los.
- Ouer kinders sal jou optrede na-aap, daarom is dit belangrik om nooit jou humeur te verloor nie. As jy koel, kalm en redelik kan bly, sal dit vir hulle makliker wees om ook só op te tree.
- Tieners wat ongehoorsaam is omdat hulle aandag soek, reageer goed op lof en aanmoediging. Sodra hulle besef hul goeie gedra kan vir hulle die aandag gee waarna hulle smag, is daar dikwels ’n afname in hul wangedrag.
Shané Barnard