Die hart van ’n seuntjie van 22 maande van Pennsilvanië in die VSA is weer ná 101 minute se noodhulp aan die klop gekry. Dokters kon hul oë nie glo toe dit blyk dat die peuter geen breinskade opgedoen het nie.
"It was an act of God," says mom when >100 min of CPR saves drowned child
HT @CarolBlymire http://t.co/BroX8P1lbe pic.twitter.com/so97b9hPM4
— Tim Lahey (@TimLaheyMD) March 20, 2015
Die seuntjie, Gardell Martin, en twee van sy boeties het buite gespeel toe hy in ’n yskoue stroompie val wat deur hul erf loop. Die sterk stroom het hom meegesleur en sy broers het om hulp geroep.
‘Ek twyfel nie vir ’n oomblik dat dit ’n wonderwerk is nie.’
Sy ma, Rose Martin, het die ambulans ontbied terwyl haar twee tienerdogters al langs die stroom af hul boetie gesoek het. ’n Buurman het hom 400 m van hul huis af gevind.
Die ambulans het kort daarna opgedaag en alles probeer om sy hart weer aan die gang te kry. Noodhulp het voortgeduur vir 101 minute – in die ambulans, by ’n gemeenskapshospitaal, in ’n mediese helikopter en eindelik in die noodeenheid van die Geisinger Mediese Sentrum. Daar het ’n span van 30 dokters en verpleegters op die ou end sy hart aan die klop gekry.
Die seuntjie se hipotermie het waarskynlik sy lewe gered omdat dit sy metabolisme baie vertraag het en dit tot ’n mate sy organe beskerm het.
“Ek twyfel nie vir ’n oomblik dat dit ’n wonderwerk is nie,” het sy ma gesê.
Bronne: Yahoo News, cbslocal.com