Teen dié tyd weet almal seker dat die fliekweergawe van die gewilde hygroman Fifty Shades of Grey (16TNS) hierdie week begin draai.
Dié blitsverkoper deur E.L. James (en die eerste in ’n trilogie) handel oor die onskuldige jong student Anastasia Steele (Dakota Johnson) wie se pad in Seattle, Amerika, kruis met dié van die biljoenêr-sakeman Christian Grey (Jamie Dornan). Christian is aantreklik en sjarmant, maar hy het ’n geheim: In die slaapkamer geniet hy sadomasochisme en hy wil so ’n verhouding met Ana begin waarin daar geen ruimte is vir romanse nie.
Soos verwag, dink die kritici die fliek is flou (nie dat dit die trilogie boeke se aanhangers sal afsit nie). Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 30 persent. Hulle bevind: “Al is die fliek baie meer van waarde as die boek is dit steeds ’n onbevredigende ervaring op die grootskerm.”
Meredith Goldstein van The Boston Globe is effens positiewer en gee dit twee en ’n half uit vier. “James moet haar sterre dank, want haar boek, wat ondanks sy gewildheid soos iets in sy ruwe konsepvorm lees, is gestroop van sy swakste elemente en in ’n verbasend bekwame draaiboek omskep,” skryf sy. “Die regisseur, Sam Taylor-Johnson (Nowhere Boy), het wat maklik in ’n onsmaaklike TV-fliek kon ontaard in ’n goeddeurdagte rolprent verander.
“Ana – ’n karakter wat groot dele van die boeke in beslag neem met haar onsamehangende gebrabbel oor haar ‘innerlike godin’ en haar obsessie met haar beheersugtige kêrel – word in ’n mens omskep danksy Dakota, ’n aktrise meer bekend vir komedies. Sy slaag daarin om Ana iemand te maak wat die moeite werd is om te ken. Dornan se ongemak help ongelukkig nie met die vonk tussen hulle nie, maar dit maak Christian tog ’n mens wat dalk regtig kan bestaan. James se Christian is bomenslik; Dornan se weergawe is ’n 27-jarige introvert wat net maak asof hy ’n slegte ou is.”
As jy lus is vir ’n ander tipe aksie is daar Kingsman: The Secret Service (16TG) met die Britse regisseur Matthew Vaughn (X-Men: First Class) aan die stuur van sake. Die jeugmisdadiger Eggsy (Taron Egerton) word deur die superkoel spioen Harry Hart (Colin Firth van The King’s Speech) gewerf om by die geheime organisasie Kingsman aan te sluit. Intussen probeer ’n eksentrieke miljoenêr, Richmond Valentine (Samuel L. Jackson van Pulp Fiction), die wêreld se bevolking uitwis. Sal Eggsy homself as ’n ware spioen kan bewys en help om Valentine te stop?
Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 71 persent by Rotten Tomatoes, wat dit beskryf as “stylvol, aweregs en pret. Matthew geniet dit gate uit om die spot te dryf met die geheime-agent-genre.”
Die Britse fliektydskrif Empire se Chris Hewitt gee dit vier sterre. “Vaughn se liefdesbrief aan geheime-agent-flieks is dalk plek-plek oneweredig, maar dis aksiebelaaid, grensverskuiwend en pret genoeg om hierdie foute te oorkom,” skryf hy. “Dis Bond sonder brieke.”
As jy eerder iets wil kyk wat jou sal laat dink, kan jy Still Alice (10-12OT) probeer. Dié drama is gegrond op die gelyknamige roman van 2007 deur die Amerikaanse neurowetenskaplike Lisa Genova en gaan oor ’n gesiene taalkundeprofessor (Julianne Moore van Crazy, Stupid, Love) wat woorde begin vergeet. Toe vroeë Alzheimer-siekte by haar gediagnoseer word, sukkel sy en haar man (Alec Baldwin van die TV-reeks 30 Rock) en kinders (Kate Bosworth, Kristen Stewart en Hunter Parrish) om hul band as gesin te behou.
Fliekkenners is dit eens dat hierdie rol vir Julianne ’n Oscar kan besorg. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 71 uit 100. By laasgenoemde kry dit 89 persent en die konsensus is: “Still Alice word verhef deur ’n aangrypende vertolking deur Julianne. Dis ’n opregte drama wat delikate temas met durf en sensitiwiteit hanteer.”
Stephen Romei van The Australian gee dit vier sterre. “Dis geensins ’n maklike fliek om te kyk nie,” skryf hy. “Maar dis relevant, dapper en vol welwillendheid. Die kans is goed dat dit jou sal herinner wat saak maak in die lewe en wat onbelangrik is.”
In die komediedrama Are You Here (13DTN) speel Owen Wilson (Wedding Crashers) Steve Dallas, ’n oppervlakkige maar matig suksesvolle weerleser en rokjagter wat sy naïewe, onverantwoordelike vriend Ben Baker (Zach Galifianakis in ’n rol wat basies soos sy karakter in die Hangover-flieks klink) moet bystaan toe dié alles van sy oorlede pa erf. Steve vergesel Ben na sy ouerhuis, waar hulle koppe stamp met Ben se gedrewe suster, Terri (Amy Poehler van die TV-reeks Parks and Recreation), wat voel dis onregverdig dat die luilak Ben als geërf het. Hulle kry ook te doen met Ben en Terri se hippie-stiefma Angela (Laura Ramsey), wat dieselfde ouderdom as hulle is. Matthew Weiner, wat die TV-reeks Mad Men geskep het, is regisseur sowel as draaiboekskrywer.
Resensente is glad nie beïndruk met die fliek nie. Metacritic gee dit 37 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit slegs 7 persent. Hulle bevind: “Gegewe die hoeveelheid talent aan albei kante van die kamera is dit uiters verwarrend hoekom Are You Here so totaal en al platval.”
Jason Best van Movie Talk gee dit twee sterre.”Wilson en Galifianakis speel die tipe rolle wat hulle in hul slaap kan doen, maar die fliek rondom hulle is minder voorspelbaar. Dit slaan vreemde rigtings in en vind nooit ’n eweredige stemming nie. Ondanks ’n tikkie innemendheid en humor is dit ’n ramp, veral omdat dit die komedie-ikoon Amy Poehler in so ’n onbenullige rol vermors.”
Sandra Visser