Thandi was veronderstel om een van die 600 renosters te wees wat stropers in 2012 in Suid-Afrika van kant gemaak het nadat hulle haar vir dood agtergelaat het. Tog het sy teen die verwagting in oorleef, en ná ’n stadige herstel die lewe aan ’n gesond kalf geskenk, het wildreservaatbestuurders Woensdag bekendgemaak.
Pic of #rhino #Thandi and her new tiny calf. Any ideas for a name? http://t.co/4t5A5PVpaD Photo: @adriansteirn
— Kariega Game Reserve (@KariegaGameRes) January 14, 2015
Die kalf se geboorte Dinsdagoggend word gevier omdat die renosterbevolking onder druk verkeer.
Renosters is ’n bedreigde spesie wat gejag word vir hul horings en die aanvraag daarna neem toe in sekere dele van Asië. Meer as 1 000 renosters is laas jaar in Suid-Afrika van kant gemaak. Die land huisves die wêreld se grootste oorblywende renosterbevolking.
’n Verteenwoordiger, Bronwen d’Oliveira, het gesê sodra die kalf kon loop, het Thandi die pasgeborene gelei na ’n dieper, afgesperde deel van die Kariega-wildreservaat in die Oos-Kaap.
We are overjoyed to announce that Thandi gave birth to a healthy calf this morning at 8h50. Dr Fowlds has seen… http://t.co/zVRf3ly4AP
— Kariega Game Reserve (@KariegaGameRes) January 13, 2015
D’Oliveira sê dit het lank geduur voor Thandi mense weer kon vertrou nadat stropers haar horing in Maart 2012 afgekap en haar gelos het om saam met twee renosterbulle dood te bloei. Een van die bulle het onmiddellik gevrek terwyl die ander net enkele weke oorleef het.
"Thandi's survival has given us inspiration and the birth of her calf brings a new dimension of hope to the crisis" @DrWillFowlds #rhino
— Kariega Game Reserve (@KariegaGameRes) January 14, 2015
Thandi, wie se naam “om lief te hê” in Xhosa beteken, het amper drie jaar lank herstel, wat vier veloorplantings ingesluit het.
Volgens die renoster se veearts, William Fowlds, gaan dit goed met die ma en kalf. Die wildreservaat het in ’n verklaring gesê dat die veearts die paar van ’n kort afstand waargeneem het. Die kalf het nog nie ’n naam nie en die geslag is nog onbekend.
Volgens D’Oliveira doen die reservaat alles in hul vermoë om die ma, kalf en oorblywende renosters in die reservaat te beskerm.
Die Kariega-wildreservaat het ’n renosterbeskermingseenheid aangestel met veiligheidsbeamptes wat daaraan toegewy is om die diere te beskerm, en elke renoster dra ’n opsporingstoestel.
In ’n omstrede besluit het die reservaat ook die diere se horings verwyder; navorsers het nog nie die uitwerking daarvan op renosters bepaal nie.
“Ons verkies hulle lewendig,” sê D’Oliveira.