Vanjaar se Razzie-benoemings, soos liefderik in die bedryf daarna verwys word, is gister bekendgemaak. Voor in die koor boer die nuutste Transformers-prent, Transformers: Age of Extinction, met ’n allemintige sewe benoemings, insluitende een vir swakste rolprent sowel as swakste akteur vir Mark Wahlberg.
Daar het verlede twee verwerkings van die Hercules-verhaal op die silwerdoek verskyn, en een daarvan, The Legend of Hercules, volg kort op die hakke van Transformers met ses benoemings. Die Christelike film Saving Christmas ewenaar hierdie getal.
Die Razzies ken ook graag tong-in-die-kies pryse toe vir enigiets van die slegste paartjie op die silwerdoek tot die slegste opvolgprent. In die eerste kategorie kan Cameron Diaz en Jason Segel dalk vereer word vir hul spel in die komedie Sex Tape, wat ook benoem is vir sy swak draaiboek.
Interessant het die Razzies ook vanjaar ’n ietwat meer positiewe prys wat hulle gaan toeken. Hulle noem dit die Redeemer Award en dit gaan aan voormalige Razzie-wenners wat in die jare tussen-in hul waardigheid op die silwerdoek herbevestig het. Name soos Ben Affleck en Keanu Reeves verskyn op vanjaar se lys.
Oudergewoonte gaan die Razzies op die vooraand van die Oscars uitgedeel word. Tradisioneel daag die wenners gewoonlik nie self op om hul pryse te ontvang nie.
Die Razzies vind vanjaar op 21 Februarie plaas.
Vir ’n volledige lys van die benoemdes, kliek hier. (http://en.wikipedia.org/wiki/35th_Golden_Raspberry_Awards)