Ná jare se tweederangse pogings herstel die eertydse Batman Michael Keaton weer sy naam in ere met Birdman (16TG), ’n swart komedie waaroor kritici mal is.

Dit gons omtrent oor die fliek se Oscar-kanse. Michael vertolk ’n rol wat sy eie lewe eggo. Hy is Riggan Thomson, ’n akteur wat bekend is vir die ikoniese superheld Birdman, wat hy in verskeie flieks gespeel het, maar sy ster het lankal begin taan. In ’n poging om sy aansien te herstel stem hy in tot ’n rol in ’n Broadway-toneelstuk, maar sukkel om sy ego in toom te hou en sy verhouding met sy vervreemde vrou (Gone Baby Gone se Amy Ryan) en dogter (Emma Stone van The Amazing Spider-Man) te laat werk.
Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 92 persent en beskryf dit as “ ’n opwindende sprong vorentoe vir die regisseur Alejandro González Iñárritu (Babel, Biutiful). Birdman is ’n ambisieuse, tegniese skouspel onderskraag deur ’n veelvlakkige storie en uitstekende toneelspel deur Michael en Edward Norton (as ’n arrogante akteur wat ook in die toneelstuk speel).”
Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Nathan is ook vreeslik beïndruk en gee dit vyf sterre. “Birdman is als wat jy wil hê ’n fliek moet wees: kragtig, uitdagend, intellektueel lewendig, visueel puik en roerend,” skryf hy. “En welkom terug op die A-lys, mnr. Keaton, ons het jou baie gemis.”
Te danke aan sy rol in St. Vincent (13DTS) is Bill Murray (Ghostbusters) nog ’n ouer akteur wie se naam as ’n moontlike Oscar-wenner voorgehou word. Hy vertolk die naamrol, maar is g’n heilige nie. Vincent is ’n knorrige, slordige pensioenaris wat daarmee tevrede is om die res van sy lewe om te drink. Dan trek ’n enkelma, Maggie (The Heat se Melissa McCarthy), langsaan in en omdat sy lang ure moet werk en geen ander opsie het nie, betaal sy Vincent om na haar 12-jarige seun, Oliver (Jaeden Lieberher), om te sien. Die twee word vriende en soos Oliver Vincent leer ken, begin sien hy die goeie hart onder die afstootlike uiterlike.
Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Rotten Tomatoes gee dit 76 persent en bevind: “St. Vincent bied jou die aansienlike plesier om Bill weer in ’n komiese rol te sien, maar die fliek dreig by tye om sentimenteel te word.”
Die Britse filmtydskrif Total Film se James Mottram gee dit drie sterre. “Die tweede helfte verval in uiterse soetsappigheid, maar Murray se aanhangers sal bly wees vir die kans om hul held in die vermaaklike grompot-rol te sien,” skryf hy.
Die skattige fee Tinker Bell is terug in nog ’n animasieavontuur vir die jongspan. In Tinker Bell and the Legend of the NeverBeast (O), die sesde fliek in die reeks oor die feetjies van Pixie Hollow, bevriend die fee Fawn (met die stem van die TV-reeks Once upon a Time se Ginnifer Goodwin) ’n reuse, vreemde kreatuur bekend as die NeverBeast omdat sy glo jy niemand op hul uiterlike moet takseer nie. Die ander feetjies is egter nie so seker nie en besluit om hom gevange te neem voor hy hul tuiste kan vernietig soos die legende rakende hom voorspel. Kan Fawn dit regkry om haar vriende Tinker Bell (Mae Whitman van One Fine Day), Silvermist (die TV-reeks Elementary se Lucy Liu), Rosetta (Megan Hilty van die TV-reeks Smash) en Iridessa (Raven-Symoné van Dr. Dolittle), te oortuig dat hy nie ’n bedreiging is nie?
Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie. Emma Johnston van Total Film gee dit drie sterre. “Dis dalk nie eersteklas-Disney nie, maar as ’n mens kyk na die reaksie van die onder 10’s by die vertoning is dit toweragtig genoeg om hulle gelukkig te hou tot die volgende Frozen verskyn,” skryf sy. “Daar is grappies, bangmaak-oomblikke en hope trane terwyl ons vir die soveelste keer leer om ander nie op hul baadjie te takseer nie.”
Die fantasieavontuur Seventh Son (13G) is al in 2012 verfilm, maar word nou eers uitgereik, wat gewoonlik nie ’n goeie teken is nie, want dit kan beteken die studio wat dit vervaardig het, het nie baie vertroue in die eindproduk nie. Dis gegrond op die jeugroman The Spook’s Apprentice, die eerste in ’n reeks deur die Britse skrywer Joseph Delaney. Seventh Son handel oor ’n jong man genaamd Tom Ward (Prince Caspian se Ben Barnes) wat spoke en demone kan sien omdat hy die sewende seun van ’n sewende seun is. Om sy vermoëns te leer gebruik gaan woon hy by die towenaar Master Gregory (Jeff Bridges van True Grit). Gregory moet egter ’n reis onderneem en terwyl hy weg is, ervaar Tom sy eerste groot uitdaging: Hy moet die bose heks Mother Malkin (Julianne Moore van The Lost World) keer nadat sy ontsnap uit die tronk waarin Gregory haar eeue gevange gehou het.
Die fliek is ook nog nie deur baie resensente gesien nie, maar dinge lyk nie goed nie. Die Franse filmtydskrif áVoir-áLire gee dit een uit vier sterre en beskryf dit as ’n groot teleurstelling, uiters voorspelbaar, vervelig en ’n verleentheid.
Sandra Visser