Eskom het Vrydag op sosiale media aangekondig die kragvoorsiener moet fase een beurtkrag toepas.
“Aangesien die aanvraag na elektristeit die aanbod oorskry het, stel Eskom van elfuur vanoggend tot tienuur vanaand beurtkrag in,” het Eskom kort voor die middaguur op die sosialemediawebtuiste Twitter bekend gemaak.
“Die skedules vir Eskom se klante is by loadshedding.eskom.co.za te kry. Munisipale klante moet hul skedules by die munisipaliteite kry,” het hulle gesê.
Vroeër het die kragvoorsiener op Twitter gesê die stelsel is steeds kwesbaar en dit betken enige ekstra lading of foute kan beurtkrag nodig maak.
Die woordvoerder Khulu Phasiwe het toe gesê die kragvoorraad is onder druk, want Eskom het nie nuwe vermoë geskep nie.
Opwekkers het ingegee weens uitgestelde onderhoud en daar was onbeplande kragonderbrekings.
“Die kragtoevoer is beperk, maar Eskom doen alles om te verseker ons vermy beurtkrag,” het hy gesê.
Khulu het gesê Eskom se finansiële kopsere is deels verantwoordelik vir die beurtkrag in die land.
“Eskom het geldprobleme. Dit is waar dat ons finansieel in die knyp is en ons voer tans met die regering gesprek om ons uit die geldnood te kry.”
Op die vraag of Eskom se geldprobeme vir die beurtkrag geblameer kan word, het Khulu gesê: “Ja, ek sou sê deels.
“Ons het geld nodig om onderdele vir onderhoud te koop, maar dit is nie die enigste rede nie. Onderhoud is in die vorige jare uitgestel, van sowat 2010 af.”
Woensdag was die risiko vir kragonderbrekings hoog – onder meer nadat twee opwekkers geweier het.
Eskom sê kragonderbrekings sal ’n laaste uitweg wees om ’n “algehele ineenstorting” van die stelsel te voorkom.
Een van die opwekkers was teen Woensdagmiddag herstel.
Vrydag het Khulu gesê die ander een is steeds buite werking en ingenieurs is besig om dit te herstel.
- Sapa