Vandeesweek is ’n nuwe Afrikaanse fliek om te sien, die komedie Jimmy in Pienk (7-9OT). Louw Venter van Die Laaste Tango vertolk die rol van ’n konserwatiewe mielieboer, Jimmy Bester. Jimmy leef sy kreatiewe kant uit deur skape te skeer, maar dit moet wegsteek vir sy pa, wat glo kreatiwiteit is vir sissies. Die Bester-plaas is in die moeilikheid en die enigste oplossing is dat Jimmy Kaapstad toe moet reis om bakhand te staan by sy gay oom, Fred (Gys de Villiers van Verraaiers). Maar Fred koester ’n wrok teen sy familie omdat hulle hom verwerp het en hy sê vir Jimmy die enigste manier hoe hy geld uit hom gaan kry, is as hy inskryf vir Fred se haarkapperkompetisie en die prysgeld wen.
Laetitia Pople van Die Burger gee die fliek drie sterre. Sy sê dis hoogs vermaaklik en ietwat eksentriek, maar sy kritiseer die rolprent vir sy stereotiepe uitbeelding van gay mans. Sy gee wel toe dat die regisseur, Hanneke Schutte, ook die draak steek met verskeie ander stereotipes, soos die macho Afrikaanse boer.
Aanhangers van Pixar se animasieprente Cars en Cars 2 behoort dié nuwe uitloopsel Planes (OT) te geniet. Dit draai om ’n beskeie spuitvliegtuig, Dusty (stem deur Dane Cook van Good Luck Chuck). Dusty droom daarvan om aan ’n resies deel te neem. Al probleem is, hy is bang vir hoogtes. Met die hulp van ’n gesoute vegvliegtuig Skipper (Stacy Keach van Prison Break) kry hy ’n kans om aan ’n wêreldbekende lugwedren deel te neem.
Hoewel die Disney/Pixar-hoof John Lasseter een van die vervaardigers is, is die fliek oorspronklik net bedoel om direk na DVD te gaan. Dit is aan die DisneyToon-ateljee oorhandig, wat DVD-opvolgprente maak soos The Lion King 2 (1998). Dit het dus nie die spesiale sorg en aandag gekry wat Pixar/Disney-flieks gewoonlik geniet nie en dit het meestal negatiewe resensies gekry.
Die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes het dit net 25 persent gegee en sê: “Planes het genoeg helder kleure, snaakse stemme en slim animasie om sommige jong kykers se aandag te hou – en moontlik hope speelgoed te verkoop – maar op byna elke ander vlak is dit ’n teleurstelling.”
Die skrywer en aktrise Brit Marling, wat bekend is vir die wetenskapsfiksiedramas Another Earth (2011) en Sound of My Voice (2011), span weer saam met laasgenoemde se regisseur, Zal Batmanglij, vir The East(13G), ’n spioenasieriller oor Sarah (Marling), ’n voormalige FBI-agent wat aansluit by ’n elite privaat intelligensiefirma en dan gestuur word om die East, ’n anargistiese groep wat aanvalle op korrup korporasies uitvoer, te infiltreer. Maar sy voel aangetrokke tot hul leier, Benji (Alexander Skarsgård van die TV-reeks True Blood), en begin simpatiseer met hul doel.
Die fliek het meestal positiewe resensies gekry: Die resensiewebtuiste Metacritic het dit 68 persent gegee en Rotten Tomatoes 74 persent. Laasgenoemde sê dit is “spanningsvol, taktvol en knap gedoen; ’n politieke riller wat nooit die menslike element verloor nie”. Kim Newman van Empire het dit drie sterre gegee. Hy sê dit as bevat “goeie toneelspel en is spanningsbelaai, maar is ’n bietjie ongemaklik en ernstig, en dalk nie verontwaardig genoeg nie”. Tom Long van Detroit News merk op: “The East los baie vrae onbeantwoord, maar ten minste vra dit dié vrae.”
Vir diegene wat iets soek met polisie en rowers is daar Welcome To The Punch (16TG). Nadat sy seun op ’n geheimsinnige manier in Londen doodgeskiet word, keer die geharde misdadiger Jacob Sternwood (Mark Strong van Sherlock Holmes) terug na Brittanje van sy wegkruipplek in Ysland. Dit gee die speurder Max Lewinsky (James McAvoy van X-Men: First Class) nog ’n laaste kans om hom vas te trek.
Die fliek het gemengde reaksie ontlok. Rotten Tomatoes het dit 50 persent gegee en die konsensus was dat “Welcome To The Punch ’n bietjie dieper en meer nadenkend is as die meeste polisiedramas, maar nie heeltemal genoeg om die swak geskrewe karakters en sieldodende geweld te oorkom nie”. Aan die ander kant het Dan Jolin van Empire dit vier sterre gegee. Dan meen dis “’n oortuigende, ambisieuse en aksiebelaaide Britse riller, alhoewel die karakters en helderheid ly onder die dol tempo”.
Die regisseur Sam Raimi is dalk nou bekend vir sy trilogie Spider-Man-flieks (2002-2007), maar hy het ’n kultusgevolg vir sy vroeë gruwelflieks soos The Evil Dead (1981). Soos amper elke ander klassieke fliek uit dié genre, is daar nou ’n nuwe weergawe van dié fliek, maar met Sam se seëning. In Evil Dead (18TGGr) is ’n groep jong mense weereens in ’n hut in die bos. Daar kom hulle op ’n Book of the Dead af en nadat hulle dit natuurlik lees, ontketen dit demone wat hulle een vir een oorneem.
Die fliek het meestal gemengde resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit 62 persent gegee, terwyl dit 57 persent op Metacritic gekry het. Die konsensus op Rotten Tomatoes was dat “dit die absurde humor kort van die oorspronklike fliek, maar daarvoor opmaak met wreedagtige angs, bloedige skriktonele en bloedige geweld”. Empire en Total Film het dit albei drie sterre gegee. Hulle meen wat gruweltonele betref is dit ’n goeie verwerking van die oorspronklike fliek, maar dat die vervaardigers hulself te ernstig opneem.
Once Upon Ay Time in Mumbai Dobaara! (ouderdomsbeperking moet nog aangekondig word) is ’n Hindi-misdaaddrama en ’n opvolgprent op Once Upon A Time in Mumbaai! (2010). ’n Bendelid (Akshay Kumar) is die nuwe misdaadbaas in Moembaai nadat hy sy mentor en voorganger vermoor het. Maar dan besluit sy twee grootste vyande om saam met die polisie te werk om hom vas te trek.
Die fliek het gemengde resensies gekry. Die gesiene kritikus Rajeev Masand het dit net een ’n half sterre gegee en gesê om deur die fliek te sit “is soos om ’n wortelkanaal te laat doen”. Madhureeta Mukherjee van die Times of India het dit drie en ’n half sterre gegee en geskryf: “Die fliek het sy oomblikke, maar dit is nie so boeiend soos sy voorganger nie.”
Sandra Visser
↧
Fliekvlooi: Wat is nuut op die grootskerm?
↧