In die feestyd is dit ’n stryd om nie te ooreet nie, veral aan ’n Kerstafel wat kreun onder die lekkernye.
En nadat jy te veel soetgoed en gebraaide kosse weggepak het en dit boonop met wyn afgesluk het, sal jy gou opgeblase en oorversadig voel. Wat kan jy doen om beter te voel nadat jy jou vergryp het? Maak los jou belt en lees verder.
Moenie gaan slaap nie
Dit klink dalk aanloklik om net te gaan lê en die oordaad van die aand af te slaap, maar moenie swig voor die versadigde, lomerige gevoel nie. Jy sal waarskynlik slegte spysvertering kry as jy net ná ’n groot maaltyd gaan slaap. Dit beteken jy kan met sooibrand en maagpyn wakker word. Gaan stap ’n ent in die buitelug. Die beweging sal vertering aanhelp en ’n bietjie van die kalkoen laat verbrand.
Drink water
Ná die Kersoordaad voel dit waarskynlik of jy nie ’n kriesel meer oor jou lippe kan kry nie. Maar maak plek vir ’n groot glas water en vat dan een saam slaapkamer toe sodat dit byderhand is wanneer jy wakker word. Deur gehidreer te bly, sal jy veel beter voel wanneer jou maag vol is.
Begin die dag reg
Die oggend ná ’n groot maaltyd en vele drankies sal waarskynlik traag wees. Slaap gerus ’n bietjie later, maar staan dan op en gryp die dag. Stort en weerstaan die versoeking om weer jou nagklere aan te trek. Moet ook nie in die versoeking kom om ontbyt oor te slaan nie. Jy voel dalk nie lus vir eet nie, maar veselryke hawermout of volgraanontbytpap sal jou metabolisme ’n hupstoot gee. Eet deur die dag goed en gereeld en hou jou gestel skoon met vrugte- en groentesap en skommels.
Oefening
Wanneer jy opgeblase en lui voel, wil jy waarskynlik geensins oefen nie. Maar dit sal help. Begin die dag met ligte jogabewegings – strekoefeninge sal met enige pyne klaarspeel en jou laat ontspan. Raak later in die dag 20 minute kardio-oefeninge baas. Ons belowe jy sal agterna veel beter voel.
© Cover Media