Vrydag
Ring Of Fire 2: Blood & Steel (e.tv 20:30)
’n Mens sou dink ontvoerders verkies maklike teikens. Nie dié spul nie – hulle het ’n woedende gevegskunsmeester se meisie ontvoer en dié is nou op die oorlogspad om haar te red.
The Conjuring (M-Net 21:30)
Die fliek is op ’n ware gruwelverhaal gegrond van ’n getroude paartjie wat bonatuurlike sake ondersoek en dan hul vreesaanjaendste taak tot dusver kry. Een ding is seker: Wat hulle ook al ondersoek, wil hul albei dood hê!
Equilibrium (SABC1 22:00)
In ’n toekoms waar emosies deur dwelms onderdruk word, ervaar ’n wetstoepasser vir die eerste keer gevoelens. Dit laat hom besef watter verskriklike werklikheid die lewe geword het. Gelukkig beskik hy oor die vaardighede, gevegstegnieke en wapens om die wêreld te verander!
Saterdag
Home Alone: The Holiday Heist (M-Net Satellite 06:00)
’n Seuntjie en sy suster is alleen tuis toe ’n groep diewe probeer inbreek. Net jammer hulle weet nie hoe vindingryk die kleingoed is nie, anders sou hulle liewer op die bure se huis toegeslaan het.
Hardball (SABC2 16:00)
Keanu Reeves speel ’n platsak dobbelverslaafde met net een manier om geld te verdien – om ’n bofbalafrigter te wees. Gelukkig is dit presies die soort werk waarvoor sy ryk pel hom sal betaal – om ’n sukkelende spannetjie met ’n paar lesse te help.
The Legend Of Bagger Vance (SABC3 19:30)
Will Smith lewer een van sy beste en mees misgekykte vertolkings as ’n gholfjoggie wat presies weet wat om te doen en sê om Matt Damon se karakter, ’n beroepsgholfspeler, uit sy groef tydens die grootste toernooi van sy loopbaan te kry.
Sondag
Dennis The Menace: The Mitchells’ Move (SABC3 14:30)
Dennis onthou sy pret saam met vriende en Mr. Wilson toe hy hoor sy gesin gaan Alaska toe trek omdat sy pa ’n nuwe werk gekry het.
Die Another Day (e.tv 20:00)
James Bond word tydens ’n uitruiling van gevangenes uit ’n Koreaanse tronk vrygelaat. Hy moet dan sy nuwe vyand uitoorlê – een wat bloeddiamante gebruik om sy terrorisme te finansier en plastiese snykunde inspan om minder na ’n diktator se seun en meer na ’n skatryk Britse sakeman te lyk.
Rush (M-Net 20:05)
Die Formule 1-supersterre James Hunt en Niki Lauda het in die 1970’s twee verskillende benaderings tot hul wedrenne gehad. Die een was ’n rokjagter wat voor ’n wedren gedrink en rook het; die ander was ’n slim, ernstige jaer. Wie gaan bo uitkom? Skakel in en vind uit!