Wanneer jy besluit dis hoog tyd om jou gesin uit te brei, wil jy seker maak jy doen jou bes om dit te laat gebeur.
Vir vroue speel hul dieet ’n groot rol; daar is al bevind dat selenium, ’n natuurlike antioksidant, ’n belangrike deel van die vroeë stadiums van bevrugting is omdat dit die ontwikkeling van eierstok-follikels help; dit is waar eierselle vervaardig word. Selenium kom in baie kossoorte voor, maar daar is bevind Brasiliaanse neute is die rykste bron.
Navorsers aan die Universiteit van Adelaide het die presiese ligging van die antioksidant in die eierstok opgespoor en het vasgestel vroue met die gesondste follikels het die meeste selenium geberg.
“Selenium is ’n noodsaaklike spoorelement in proteïenryke kosse, soos rooivleis, seekos en neute. Dis belangrik vir talle biologiese funksies, soos immuunreaksie en die vervaardiging van tiroïedhormone. Dit tree ook op as ’n antioksidant en help skadelike chemikalieë in die liggaam ontgif,” het die navorser Melanie Ceko verduidelik.
“Ons weet al ’n ruk lank selenium is belangrik vir mans se vrugbaarheid, maar tot nou toe het niemand nagevors hoe dit gesonde voortplanting by vroue kan aanhelp nie.
“Ons vermoed dit speel in die latere stadiums van follikelontwikkeling ’n deurslaggewende rol as antioksidant, wat tot ’n gesonde omgewing vir die eiersel help lei.”
Dit is nie net die kosse hierbo gelys wat jy moet eet nie; daar is hope ander. Sade, volkoringbrood en sampioene is net ’n paar van die kosse wat jy kan eet vir meer selenium.
Daar is ook ander maniere om jou kanse te verbeter, soos om ’n bietjie gewig af te skud. ’n Eksperiment aan die Harvard-universiteit se skool vir openbare gesondheid het getoon vroue sal makliker swanger raak as hulle gewig verloor.
Vroue wat sowat 5 kg afgeskud het, het sowat twee weke vinniger swanger geraak as dié wat nie gewig verloor nie en dié wat reeds slank was, het ook maklik swanger geraak.
Dit verskil van ’n studie in 2011 wat genoem het dat ondergewig vroue moeiliker swanger sal raak as vetsugtige vroue. Maar onthou om gewig te verloor en altyd jou dokter te raadpleeg om die beste plan vir jou gewigsverlies te bepaal (as dit nodig is dag jy gewig verloor).
© Cover Media