’n Nuwe ondersoek toon dobbelaars put minder plesier uit genotvolle ervarings.
Navorsing wat by die Europese Kollege vir Neuropsigofarmakologie-kongres in Berlyn voorgelê is, toon dobbelary kan verslawend word, want die brein van diegene wat daaraan deelneem, het ’n ander reaksie op hul opioïede stelsel. ’n Opioïed is enige chemikalie wat morfien naboots.
Vir die eksperiment is 14 patologiese dobbelaars en 15 gesonde vrywilligers met positron-emissie-tomografie-skanderings (PET) ondersoek om hul opioïede reseptorvlakke te meet. Die reseptore bevorder kommunikasie tussen selle en die werking van neuro-oordraers of chemikalieë soos endorfiene in die brein gee dit ’n hupstoot.
Die uitslae van die skanderings toon geen verskil tussen die reseptorvlakke van die dobbelaars en nie-dobbelaars nie, terwyl mense wat aan goed soos drank of dwelms verslaaf is, hoër opioïede reseptorvlakke het, voer die navorsers aan.
Die deelnemers het toe ’n amfetamienpil gekry wat endorfiene (natuurlike opiate) vrystel en nog ’n PET-skandering is gedoen. Dit het geblyk die dobbelaars het minder endorfiene natuurlik vrygestel as die nie-dobbelaars. En diegene wat aan dobbelary deelgeneem het, het ook gemeld hulle voel minder eufories as die gesondes.
“Uit ons werk kan ons twee goed sê,” verduidelik die hoofnavorser, dr. Inge Mick, in ’n verklaring. “Eerstens, die brein van patologiese dobbelaars reageer anders op hierdie stimulasie as die brein van gesonder vrywilligers. En tweedens, dit lyk of die patologiese dobbelaars eenvoudig nie dieselfde gevoel van euforie kry as gesonde vrywilligers nie. Dit kan in ’n mate verklaar waarom die dobbelary ’n verslawing word.”
Dit was die eerste keer dat PET-skanderings gebruik is om te kyk na die verhouding tussen die opioïede stelsel en patologiese dobbelary, wat as ’n gedragsverslawing beskryf word.
“In ag genome vorige werk oor ander verslawings, soos alkoholisme, het ons verwag patologiese dobbelaars sou verhoogde opiaatreseptore hê, wat ons nie gevind het nie. Maar soos verwag, het ons ’n verandering in endogene opioïede gevind,” voeg Inge by.
“Die bevindinge dui op die betrokkenheid van die opioïede stelsel by patologiese dobbelary en dat dit kan verskil van verslawing aan middels soos alkohol. Ons hoop dit kan ons op die lang duur nuwe benaderings help ontwikkel om patologiese dobbelary te behandel.”
© Cover Media