Mans se brein ignoreer kos wanneer seks ’n moontlikheid is, volgens ’n nuwe ondersoek aan die Universiteit van Rochester se mediese sentrum.
Vir die ondersoek is die rondewurm C. elegans bestudeer. Die navorsers het gefokus op ’n paar neurone wat verband hou met die vind van ’n maat en honger. Hulle het twee geslagte van die wurms gebruik: manlikes en hermafrodiete, wat paarmaats is vir manlikes en as die ekwivalent van wyfies beskou word.
Die slymerige gediertes is in ’n petribakkie geplaas en kos gegee – met die keuse om te vreet of ’n maat te soek. Party van die wurms is geneties aangepas om sensitiewer vir die reuk van kos te wees en daar is met hul neurone gepeuter.
Terwyl die normale manlike wurms hul kosbron gelos het om ’n paarmaat te gaan soek, was die geneties aangepastes hongerder en minder geneig om te paar, want hulle wou by hul kos bly. Die hermafrodiete het net by hul kos gewag en nie moeite gedoen om ’n ander wurm te vind nie.
Die ondersoek is in die joernaal Current Biology gepubliseer en ondersteun die idee dat mans ’n groter kans het om hul honger te onderdruk op soek na seks.
“Terwyl ons weet verskeie faktore beïnvloed menslike gedrag, onder meer kulturele en sosiale norme, dui die bevindinge op grondliggende biologiese meganismes wat party gedragsverskille tussen mans en vroue kan help verklaar, asook ook waarom verskillende geslagte vatbaarder is vir sekere neurologiese afwykings,” sê assistent-professor Douglas Portman van die departement van biologiese genetika en sentrum vir neurologiese ontwikkeling en siekte.
“Die bevindinge toon ons kan gedrag verander deur die kenmerke van ’n enkele sel aan te pas. Dit dra by tot toenemende bewyse dat geslagspesifieke regulering van geenuitdrukking verskille in gedrag – en vatbaarheid vir siektes – tussen die geslagte kan beïnvloed.”
Die navorsing is wel op wurms uitgevoer, maar navorsers gebruik C. elegans al lank en dit het al voorheen tot ’n beter begrip van menslike gedrag gelei.
© Cover Media