Prins George van Brittanje gaan dalk vandeesmaand vir die eerste keer vakansie hou saam met sy ouers.
Prins William en Catherine wil George, wat op 22 Julie gebore is, na koningin Elizabeth II se landgoed in Balmoral, Skotland, neem vir ’n gesinsvakansie.
Die koninklike verslaggewer Robert Jobson het aan die tydskrif Now gesê: “Nadat hulle in die kollig was, sien hulle uit na ’n ruskansie.”
Hy het bygevoeg dat die koninklike egpaar na verwagting sal ontspan deur “vis te vang” of “vleis te braai”.
Robert het gesê: “Wills sal met klein George in ’n drasak deur die hooglande stap. Die gesin sal gaan visvang en by die rivier vleis braai. Daar naby is ook ’n klein hotel met ’n swembad waarheen prinses Diana haar seuns geneem het, dus sal George dalk selfs die eerste keer swem.”
Die gesin het sedert die kleinding se geboorte by Catherine se ouers in Bucklebury, Berkshire, tuisgegaan. William, ’n soek-en-reddingsvlieënier by die koninklike lugmag, moes vandeesweek teruggaan werk toe.
Terwyl die vakansie pa en seun ’n goeie geleentheid sal bied om bymekaar te wees, sal dit dalk ook aan Elizabeth se man, prins Philip, die kans gee om sy agterkleinseun te ontmoet.