Raar, maar waar! Grace Gelder was so keelvol van man soek dat sy onlangs besluit het om met haarself te trou.
Dié fotograaf van Brittanje is al die afgelope ses jaar enkellopend en glo vas sy het met die jare ’n briljante verhouding met haarself opgebou.
“Om die band met iemand anders te hê lyk vir my na te veel werk,” meen sy.
Dit was nes enige ander troue – minus die bruidegom, natuurlik!
Grace het op ’n pragtige troulandgoed net buite Devon in ’n spierwit trourok voor 50 gaste ewige trou aan haarself beloof.
Sy het ’n trouring gekoop en die “huwelikskontrak gesluit” deur haar in ’n spieël te soen.
Nes enige ander bruid het sy voor die groot dag koue voete gekry, maar sy het haar sommer gou-gou reggeruk en geweet sy doen die regte ding.
Hoewel die troue nie wettig is nie, is Grace net bly sy is nie meer ’n “enkellopende dame” nie; tog is sy steeds oop vir die idee van liefde.
“Net omdat ek met myself getroud is, beteken dit nie ek is wil nie eendag ’n huwelik met iemand anders deel nie,” sê sy.
- Janine Nel
Bronne: mirror.co.uk, theguardian.com