Kelly Osbourne se ma het haar een keer in ’n isoleerkamer laat opsluit om haar dwelmverslawing te genees.
Die 28-jarige werklikheidstelevisiester is dankbaar oor Sharon Osbourne (60) se vasbeslotenheid om haar dwelmgebruik stop te sit terwyl sy ’n rebelse tiener was.
Kelly het die Britse tydskrif Cosmopolitan meegedeel: “Ek was sewe keer in rehabilitasiesentrums en in twee sielsieke-inrigtings. My ma het my selfs een keer in ’n isoleerkamer laat plaas om my skrik te maak, maar soos ’n bedorwe brok het ek net daar gesit tot sy gesê het: ‘Wel, dit gaan nie werk nie.’ ”
Die mede-aanbieder van Fashion Police het erken dat sy op 18, toe kanker by Sharon gediagnoseer is, haar slegte gewoontes laat vaar het. Sy het haar loopbaan op ys geplaas en, in ruil vir haar ma se besorgdheid oor die jare, haar oor Sharon ontferm.
Kelly het gesê: “Toe ek 18 was, sou ek die rol van Lindsay Lohan se beste vriendin in Freaky Friday vertolk het. Kanker is toe by my ma gediagnoseer. Ek moes kies tussen ’n loopbaan of om wat dalk die laaste dae van my ma se lewe kon wees saam met haar deur te bring.
“Ek het gesê f*k jou, loopbaan, hallo, Mamma. Ek het my ma dag en nag verpleeg. Ek het gedink ek sou haar verloor. Dit was verskriklik.”
Dit het egter nog ’n paar jaar geneem voor die stylbewuste ster, wat verloof is aan die sjef Matthew Mosshart, ophou dwelms gebruik het. Sy sê sy het haar leefstyl heroorweeg toe sy besef mense distansieer hulself van haar.
Kelly het verduidelik: “Ek was nooit een van daardie mense wat sou sê kom ons hou partytjie; kom ons gaan snuif hope kokaïen nie. Ek het in werklikheid nooit eens vir enigeen vertel ek het dwelms nie omdat ek alles vir myself wou hê. Ek was nogal selfsugtig.
“Wat vir my verander het, was om om my te kyk en te sien niemand hou van my of wil saam met my werk nie.”
Kelly se pa, Ozzy (64), en broer Jack (27) het ook al in die verlede met dwelmverslawing gesukkel en die Black Sabbath-rocker het homself op Kelly se geboortedag by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek.