Jack, ’n hond wat opgelei is om renosterstropers op te spoor, is saam met sy eienaar se bakkie in Pretoria gesteel, sê die Palala-renosterskuiling.
“Die eienaar (Kobus Greef) het Sondag verjaar en hy is met Jack agter op die bakkie na die Brooklyn-winkelsentrum,” sê Selomie Maritz, die stigter van Palala.
Jack het op die wit Land Cruiser gebly, want hy was opgelei om dit te doen, terwyl Kobus en sy gesin die winkelsentrum binne is.
“Die voertuig is uit die betaalparkeerplek gesteel en ons soek sedert Sondag na hom.”
Kobus kom van Pongola in Noord-KwaZulu-Natal en het vir sy verjaardag na Pretoria gegaan.
“Kobus is verslae. Hy is nog in Pretoria. Hy sê hy kan nie sonder Jack hier weggaan nie,” vertel Selomie.
Die polisie is in kennis gestel. Kobus en ander mense soek by veeartse om te kyk of die diewe die hond afgelaai het. Hy sê hulle het gesukkel om by die winkelsentrum hulp te kry.
Videomateriaal van kameras by die sentrum wys hoe iemand met die bakkie wegry, maar dit was te donker om die diewe uit te ken.
Jack, ’n 10-jarige Duitse korthaar-patryshond, is in Duitsland opgelei om stropers op te spoor.