’n Volmaakte nagereg waarby ’n marmer-sjokolade-en-karamelsous uitloop wanneer jy dit met ’n lepel oopbreek.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min.
Verkoel: 30 min.
Gaarmaak: 12 min.
125 ml (½ k) strooisuiker
150 g botter, gekap
150 g donker sjokolade, grof gekap
3 eiergele
3 eiers
15 ml (1 e) meel
4 Rolo-sjokolades
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 4 klein poedingvorms.
- Plaas die suiker, botter en sjokolade in ’n hittebestande bak oor ’n pan pruttende water. Verhit baie liggies tot die botter en sjokolade gesmelt het en verwyder dan van die hitte. Klits tot gemeng.
- Voeg die eiergele en eiers een-een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou die meel in.
- Maak die vorms half vol en plaas dan ’n Rolo-sjokolade onderstebo in elke vorm. Bedek met die res van die beslag en verkoel 30 minute in die vrieskas.
- Verplaas na ’n bakplaat en bak dadelik 12 minute. Keer op afsonderlike opdienborde uit.
Deur Hope Malau
Foto: David Briers