Die Spook van Uniondale (7-9O) is ’n poging om ’n ware bangmaakfliek in Afrikaans te maak. Dis gegrond op die legende van die vroulike spook wat glo saans langs die pad buite Uniondale in die Suid-Kaap motoriste ’n saamrygeleentheid vra, ’n ent saam met hulle ry en dan net verdwyn. Stefan (Adam Tas) is ’n sakeman wie se motor Paasnaweek onklaar raak naby Willowmore, 60 km noordoos van Uniondale. Hy soek hulp en ontmoet talle vreemde karakters wat hom die tragiese legende van die spook se ontstaan vertel. Hy ontmoet ook Sonja (Nelda Janse van Rensburg), en daar is dadelik ’n vonk tussen hulle.
Laetitia Pople van Die Burger gee die fliek twee sterre. “Die probleem . . . is dit is nóg hier nóg daar,” skryf sy. “As spookstorie is dit koue pampoen; die draaiboek is net ’n draadjie waarvan die verlede die interessantste deel is. Dit is asof die rolprentmakers net nie geweet het hoe om die hede en verlede sinvol en boeiend bymekaar te bring nie.”
Die Franse regisseur Luc Besson, bekend vir sy stylvolle aksieflieks soos The Professional (1994) en The Fifth Element (1997), is aan die stuur van sake met Lucy (16 G). Scarlett Johansson (The Avengers) speel die titelkarakter, ’n naïewe, jong, Amerikaanse vrou wat in Taiwan woon en wie se kêrel haar oortuig om ’n geheimsinnige tas aan ene mnr. Jang te lewer.
Maar Jang is ’n dwelmbaas, en Lucy word ontvoer en ’n sakkie gevul met die waardevolle nuwe eksperimentele dwelmmiddel CPH4 word in haar maag vasgewerk. Tydens haar aanhouding skop een van die bendelede haar in die maag, die sakkie bars en die dwelm word in haar liggaam vrygestel. Blykbaar gebruik ons net 10 persent van ons verstand, en die dwelms laat Lucy se breinkapasiteit so toeneem dat sy superkragte ontwikkel, genoeg om wraak op haar aanvallers te neem.
Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Lucy kry 65 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle beskryf die fliek as “geesdriftig en laf. Lucy stoomroller deur die fliek se minder logiese dele met tong in die kies opwinding asook Scarlett se sjarme; daarom slaag dit”.
Kate Stables van die Britse fliektydskrif Total Film gee dit vier sterre. “Die eens opwindende Besson is weer op sy stukke en dring aan op jou aandag met hierdie kombinasie van aksie, wetenskap en metafisiese mymering in die styl van die kunssinnige regisseur Terrence Malick.”
Ian Nathan van die Britse rolprenttydskrif Empire is nie ewe ingewonne nie en gee dit drie sterre. Hy voel die eerste helfte waarin Scarlett die skurke laat les opsê, sal jou herinner hoekom jy van Luc se flieks gehou het. “Maar wat begin as ’n opwindende interpretasie van strokiesboekstyl, val vas in ’n wetenskaplike gebrabbel,” skryf hy. “Tog sal jy dol wees oor Scarlett se manjifieke heldin.”
Nog ’n nuwe uitreiking wat die vroulike hoofkarakter se naam as die rolprenttitel gebruik, is Tammy (16 TG) met die talentvolle komediant Melissa McCarthy (The Heat) in die naamrol as ’n sukkelaar wat haar slegste dag tot dusver beleef.
Sy skryf haar krok af, verloor haar werk by ’n kitskosrestaurant en betrap haar man (Nat Faxon) op ’n romantiese kersligete met die buurvrou (Toni Collette van The Sixth Sense).
Tammy wil net wegkom uit hul dorpie, maar al mens wat sy ken met wiele, is haar ouma Pearl (Susan Sarandon van Thelma & Louise), wat aandring om saam te gaan en die twee kies koers na die Niagara-waterval.
Die meeste resensente dink die fliek is bra swak. Dit kry 39 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en slegs 24 persent by laasgenoemde. Die konsensus is: “Melissa McCarthy bly ’n innemende teenwoordigheid op die silwerdoek, maar haar pogings is nie genoeg om hierdie deurmekaar fliek op koers te hou nie.”
Anna Smith van Empire gee dit twee sterre. “Daar’s ’n handjie vol snaakse oomblikke, maar dié fliek – met McCarthy se man, Ben Falcone, as regisseur en mededraaiboekskrywer – kort ’n spanningslyn en simpatieke karakters.”
Geoffrey Macnab van The Independent gee dit ook twee sterre. “Die fliek is so wisselvallig soos Tammy se bestuursvermoë en slinger gevaarlik van platvloerse komedie na oordrewe sentimentaliteit met geen duidelike bestemming nie,” skryf hy.
“Dis ook moeilik om die rolprentvervaardigers se houding teenoor hul eie karakter te verstaan. Tammy word dikwels wreed behandel en ons is nooit seker of ons met haar of vir haar moet lag nie, haar moet jammer kry of haar moet toejuig nie.”
Die tweede Suid-Afrikaanse fliek wat vandeesweek begin draai, is Hard to Get (16 DTSG), ’n misdaaddrama waarin die vrouejagter TK (Pallance Dladla van die sepie Rhythm City) sy moses teëkom toe hy die verleidelike en gevaarlike misdadiger Skiets (Thishiwe Ziqubu van die TV-reeks Mzansi Love: Kasi Style) ontmoet.
Sy waag te veel toe sy die grootste plaaslike misdaadbaas, Mugza (Israel Makoe van die TV-reeks Gaz’lam), aanvat en TK en Skiets kies die hasepad Johannesburg toe in Mugza se motor. Maar dis nog lank nie die laaste sien van hom nie.
Die Burger se Rozanne Els gee dit drie sterre. “Sekerlik die beste aksietonele wat ’n plaaslike rolprent nog kon oplewer, asook die vonk tussen die akteurs maak van Hard to Get ’n vuurwarm affêre,” skryf sy. “Die regisseur Zee Ntuli vermeng met ’n fyn balans die grinterige realiteit van ’n misdaaddrama met die emosionele wipplank van verliefdheid.”
Die biografiese prent Lovelace (16 DTNSG) speel in die 70’s in Amerika af en handel oor die onwaarskynlike ster van die eerste pornografiese rolprent wat op die silwerdoek vertoon is.
Linda Lovelace (Amanda Seyfried van Mamma Mia!) ontsnap uit haar uiters eng godsdienstige ouerhuis deur met die charismatiese swendelaar Chuck Traynor (Peter Sarsgaard van Green Lantern) te trou.
Chuck sien dollartekens toe hy Linda se talente in die slaapkamer ontdek en kry haar om die hoofrol in die berugte pornografiese fliek Deep Throat (1972) te speel. Linda word ’n sensasie en voorstander van die beweging vir seksuele vryheid, maar ses jaar later vertel sy ’n ander storie: sy is herhaaldelik mishandel, verkrag en gedwing om in die fliek te speel. Wat is die waarheid?
Die meeste kritici voel die fliek is gemiddeld. Dit kry 54 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind: “Amanda en Peter doen hul bes met wat dit wat hulle het, maar Lovelace het nie genoeg diepte en oortuiging om reg te laat geskied aan die fassinerende onderwerp nie.”
Kate Stables van Total Film is meer ingenome daarmee en gee dit drie sterre. Sy skryf: “Seyfried en Sarsgaard blink uit in ’n bio-fliek wat fokus op die swaarkry eerder as die pornografie, maar jou laat voel daar is nog baie te sê.”
Anna Smith van die tydskrif Time Out gee dit ook drie sterre. “Die eerste helfte is interessant en pret, maar Linda se gevoelens word selde onthul; dit word oorgelaat aan die neerdrukkende tweede helfte, wat soos ’n naskrif voel wat haastig aangelas is om ’n mens skuldig te laat voel, pleks van ’n ware onthulling.”
- Sandra Visser