Hello Kitty is nie ’n kat nie, het die vervaardiger van Japan se oulikste uitvoerproduk Donderdag gesê, ten spyte van internetgebruikers wat voorhou dat sy ’n snor het.
Die gesig wat op alles van potloodsakkies tot slaapklere pryk, is inderdaad menslik.
“Hello Kitty is ’n vrolike, gelukkige meisie met ’n hart van goud,” sê die handelsmerk-eienaar, Sanrio, op hul webtuiste.
Die skokonthulling is gedoen toe ’n Hawaise akademikus, wat spesialiseer in die toonbeeld van “kawaii” (“oulik” in Japannees), gevra het Sanrio moet onderskrifte nagaan vir ’n uitstalling vir Hello Kitty se 40-jarige bestaan, waarvan sy die kurator is.
Christine Yano, ’n antropoloog aan die Universiteit van Hawaii, het aan die Los Angeles Times gesê Sanrio het haar “baie ferm reggehelp”: Kitty is nie ’n kat nie.
“Dit is een korreksie wat Sanrio in die teks vir die uitstalling gemaak het,” het die koerant haar aangehaal.
“Hello Kitty is nie ’n kat nie; sy is ’n tekenprentkarakter. Sy is ’n meisietjie. Sy is ’n vriendin. Maar sy is nie ’n kat nie. Sy loop en sit soos ’n tweebenige dier.”
En ’n ondersoek deur AFP na die status – katagtig al dan nie – van een van Japan se bekendste uitvoerprodukte het haar identiteit bevestig.
“Die karakter is 100 persent verpersoonlik,” het ’n Sanrio-woordvoerder in Tokio aan AFP gesê. “Die ontwerp self het die vorm van ’n kat, maar daar is geen kat-element in Hello Kitty se omgewing nie.”
Haar regte naam is Kitty White, het hy verduidelik, en sy is op 1 November 1974 in die suide van Engeland gebore. Sy is ’n Skerpioen en haar bloedtipe is A.
Sy het ’n tweelingsuster, Minny White, en woon in ’n Londense buurt saam met haar pa, George, en ma, Mary, lui haar profiel.
Ten spyte van haar snor en skerp oortjies, net soos die res van haar gesin, het Kitty ’n troeteldier – ’n “regte” kat genaamd Charmmy Kitty.
Haar lewensverhaal was ook altyd daar, het die woordvoerder gesê, en het bygevoeg die verpersoonliking is bedoel om haar aanhangers nader aan haar te laat voel, soos met ’n vriendin.
Sedert die mondlose wit karakter die eerste keer in 1974 op ’n muntbeursie verskyn het, het sy in sowat 130 lande op tallose produkte gepryk, van handsakke tot vliegtuig.
Maar onthou, sy is nie ’n kat nie.