E-sigarette moet aan dieselfde voorskrifte as gewone sigarette onderwerp word en moenie aan minderjariges verkoop word nie, het die Amerikaanse Hartstigting in nuwe beleidsriglyne gesê wat Maandag bekendgemaak is.
Die gebruik van e-sigarette, elektriese toestelle wat gegeurde vloeibare nikotien tot damp verhit en wat dan ingeasem word, is baie soos tradisionele sigarette, maar dit stel nie rook vry nie. Dit het in die afgelope paar jaar onder jongmense baie gewild geword, wat kommer wek oor die potensiaal vir verslawing en skade aan gebruikers se gesondheid.
E-sigarette is tans ongereguleer, wat beteken minderjariges kan dit koop. Dit kan ook openlik geadverteer word, anders as sigaretvervaardigers, wat streng reëls moet volg oor waar en hoe hulle produkte bemark.
Die stigting wil sake ook verder voer as die Amerikaanse voedsel- en dwelmadministrasie se voorlegging in April, wat ’n nuwe reeks voorskrifte oor e-sigarette uitstip. Dit sluit in die verbod op verkoop aan minderjariges, maar sê niks oor die bemarking of aanlyn verkope van die lekkergoed- en vrugtegeur vloeistowwe wat volgens sommige op jongmense gemik is nie. ’n Tydperk van openbare kommentaar oor die administrasie se voorlegging het verlede maand verstryk en die nuwe reëls is nog nie geïmplementeer nie.
“Onlangse studies wek kommer dat e-sigarette dalk ’n poort tot tradisionele tabakprodukte vir die land se jongmense is; dit kan ook rook in ons gemeenskap hernormaliseer,” sê Nancy Brown, die Amerikaanse Hartstigting se hoof uitvoerende beampte.
“Hierdie ontstellende verwikkelinge het die stigting help oortuig dat e-sigarette sterk gereguleer, deeglik nagevors en nou gemonitor moet word.”
Die riglyne, wat in die joernaal Circulation gepubliseer is, stel voor omdat dit ook nikotien bevat, moet e-sigarette “onderhewig wees aan al die wette wat op hierdie produkte van toepassing is”.
Die hartstigting “dring ook aan op sterk nuwe regulasies wat toegang aan en die verkoop en bemarking van e-sigarette aan minderjariges voorkom, asook nog navorsing oor die produk se gesondheidsnvloed”.
Die verkope van e-sigarette het skerp toegeneem nadat dit in 2007 aan die mark voorgestel is, het gesondheidsamptenare gesê.