OU KOFFERS is omgeef van romantiek, en laat jou dink aan opwindende ontdekkingstogte, grootse avonture en plesierige vakansies uit jou kinderjare. ’n Stel horinghoue reistasse wat ek by my oupa geërf het is van my kosbaarste besittings. Ek het hulle al ingespan vir vele dinge, soos koffietafels, bêreplek onder die bed vir ekstra komberse en deesdae as ’n tafel vir my platskerm-TV.
Hier is vyf planne van ander Pinterest-gebruikers wat ou reistasse op wonderlike maniere in hul huise inspan.
1 Wêreldreisiger
Wat ’n hemelse plek om van toekomstige reise te droom! (Oorspronklik vasgespeld uit http://parolanasema.blogspot.fi)
2 ’n Hoekie vir lees
’n Stapeltjie afgeleefde leertasse kan ouwêreldse sjarme aan ’n leeshoekie verleen. (Oorspronklik vasgespeld uit http://old-fashionedfarmhouse.blogspot.com)
3 Staan stewig
Ou koffers het gewoonlik wankelrige deksels, dus bied hierdie spieël met sy outydse raam ’n mooi oplossing. (Oorspronklik vasgespeld uit http://weheartit.com)
4 Nuwe uit die oue
Hierdie oulike reistas-stoele met plaasontwerpe op hul bekleedsel is deur die innoverende Suid-Afrikaanse ontwerper Katie Thompson van Recreate geskep. (Oorspronklik vasgespeld uit haar webtuiste www.recreate.za.net)
5 Laaikas van koffers
Toegegee, hulle is nie so maklik om oop te maak soos gewone laaie nie, en jy sal seker nie jou onderklere of sokkies hierin wil bêre nie. Maar wat ’n oulike manier om ou reistasse ten toon te stel, en boonop is dit slim bêreplek vir al jou wegpakgoed soos wol en rokmateriaal, ou foto’s en dokumente. (Oorspronklik vasgespeld uit www.thecottagemarket.com)
Nagedagte
En as die tas te oud en gehawend vir gebruik binne-in die huis is, tower dit om in ’n blombak vir buite! (Oorspronklik vasgespeld uit http://heksaogkatten.blogspot.com)
– Alfie Steyn
Kyk na Alfie se ander Pinterest-gunstelinge by:
Hoe lyk dit met cilantro? Of arugula?
Inspirasie van Pinterest vir ’n gesonder jy
Volg Huisgenoot op Pinterest