Die Royal Australasian College of Physicians wil hê alle vorms van lyfstraf moet onwettig verklaar word “sodat die reg kinders in dieselfde mate as alle ander mense teen aanranding beskerm”.
“Baie gevalle van fisieke mishandeling is die gevolg van fisieke straf wat handuit geruk het,” sê Susan Moloney, die hoof van die kollege se kindergesondheidsafdeling.
“Die probleem met die toelating van ’n pak slae is dat die lyn tussen mishandeling en ‘redelike geweld of straf’, wat nou in sommige state toegelaat word wanneer ’n kind gedissiplineer word, maklik vaag kan wees.”
Navorsing toon dat die meeste Australiese ouers hul kinders pak gee, maar heelwat minder mense dink deesdae dis aanvaarbaar. In 2002 het 75 persent van volwassenes wat aan ’n peiling deelgeneem het gesê dis aanvaarbaar, terwyl net 69 persent in 2006 gevoel het dis soms nodig om ’n stout kind te raps.
Susan sê studies wys toenemend dat diegene wat op ’n jong ouderdom aan fisieke straf blootgestel is, het ’n groter risiko vir nadelige gevolge later. “Dit sluit in geestesprobleme soos depressie, angstigheid, aggressiewe of antisosiale gedrag, probleme met die gebruik van verslawende middels en mishandeling van hul eie kinders of lewensmaat,” sê sy.
“Baie kinders sal nie negatiewe gevolge weens gematigde of redelike fisieke straf ervaar nie, maar hoekom moet jy jou kind se latere gesondheid en emosionele welstand in gevaar stel?”
Susan verwys ook na ander wetgewing. “As jy jou hond slaan, kan jy in hegtenis geneem word. Maar dis wettig om jou kind te slaan,” sê sy in ’n onderhoud met die Sydney Morning Herald.
Die kollege, wat meer as 14 000 dokters in Australië en Nieu-Seeland verteenwoordig, sê die fisieke straf van kinders is reeds in 33 lande onwettig en daar is bewys dat die aanpassing van die wet en openbare debat oor die saak houdings help verander het.
Die kollege sê voorts dat hierdie lande ook ander voordele geniet, soos vroeë identifikasie van kinders wat mishandel word en lae sterftesyfers wat met kindermishandeling verband hou.
Nieu-Seeland het in 2007 ’n wet ingestel wat ouers verbied om hul kinders te slaan, wat beteken dat volwassenes nie langer “redelike geweld” mag gebruik om hul kinders te dissiplineer nie.
Ander lande met so ’n verbod sluit in Duitsland, Israel en Kenia.
Die regering het destyds gesê dit sou help om Nieu-Seeland se swak rekord van geweld teenoor kinders te verbete, nadat ’n VN-verslag in 2003 getoon het dat dit die ontwikkelde land is waarin mishandeling en verwaarlosing die derde meeste voorkom. – Sapa