Prins Harry van Brittanje het Donderdag gesê hy gaan seker maak sy broerskind, George, geniet die lewe.
Die ondeunde prins het gesê hy het George Alexander Louis, wat Maandag gebore is, ontmoet en vasgehou, hoewel die baba “sy oë uitgehuil het”. Harry (28) het ook geskerts dat sy dienste as baba-oppasser nie goedkoop sal wees nie. George is die eersteling van Harry se broer, prins William, en dié se vrou, Catherine.
Op ’n vraag wat sy pligte as ’n oom sal wees, het hy geantwoord: “Om seker te maak hy kry ’n goeie opvoeding, om hom uit die moeilikheid te hou en om seker te maak hy het pret. Die res sal ek aan die ouers oorlaat. Ek hoop net my broer weet hoe duur my baba-oppasfooie is,” het hy gelag. Dis “fantasties om nog ’n toevoeging tot die familie te hê”, het hy bygevoeg.
Die baba, wat bekend sal staan as prins George van Cambridge, het Harry as die derde troonopvolger vervang.
Harry het gesels by ’n geleentheid ter bevordering van Sentebale, sy liefdadigheidsorganisasie in Afrika. Dit staan kinders in Lesotho by wie se lewens deur MIV/vigs geraak is.
George is Maandag om 16:24 (Londense tyd) in die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal gebore, dieselfde hospitaal waar William (31) en Harry gebore is. William en sy gesin is tans by sy skoonouers op die Britse platteland, ver weg van die blik van die wêreldmedia. – Sapa