Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Rys: 30 min.
Gaarmaak: 40 min.
PIZZADEEG
375 ml (1½ k) warm water
7 g droë gis
1 ml (¼ t) strooisuiker
4 x 250 ml (4 k) meel
2 ml (½ t) sout
60 ml (¼ k) olyfolie
BRAAISOUS
3 knoffelhuisies, gekap
45 ml (3 e) donker bruinsuiker
2 ml (½ t) brandrissievlokkies
200 ml (¾ c) tamatiesous
45 ml (3 e) worcestersous
2 ml (½ t) Engelse mosterdpoeier
30 ml (2 e) braaispesery
200 ml (¾ k) kola
sout en peper
BOLAAG
15 ml (1 e) olie
3 hoenderborsies
½ rooi ui, in dun skywe gesny
500 ml (2 k) gerasperde mozzarellakaas
’n hand vol vars koljander, gekap
- Pizzadeeg: Meng die water, gis en suiker in ’n bakkie. Sit eenkant 5 minute of tot skuimerig.
- Meng die meel en sout in ’n groot bak en maak ’n holte in die middel. Voeg die gismengsel en olie by. Meng deur snybewegings met ’n mes met ’n ronde punt te maak. Bring die deeg met jou hande in die bak bymekaar.
- Verf ’n ander bak liggies met olie. Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie 10 minute of tot glad en elasties. Verplaas na die gesmeerde bak en draai om in die olie te bedek. Bedek met kleefplastiek en laat rys op ’n warm plek 30 minute of tot verdubbel.
- Braaisous: Meng die bestanddele goed.
- Bolaag: Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte en braai die hoender 10 minute. Verf die hoender met braaisous en hou aan braai en met sous verf nog 10 minute of tot gaar. Verplaas na ’n snybord en sny in skywe.
- Rol die deeg in twee groot pizzas uit en verplaas na ’n groot bakplaat. Smeer die braaisous egalig oor die deeg met ’n kwas of die agterkant van ’n soplepel. Bak 10 minute.
- Strooi die gesnyde hoender en rooi ui oor die kors. Bedek met die kaas en sit terug in die oond 8 minute of tot die kaas gesmelt het. Strooi die koljander oor en sit voor.
Deur Hope Malau