Dis amptelik: Suid-Afrika se gunsteling-tannie agter die kospotte het haar eie kookboekkontrak losgeslaan!
“Ek het dit nie in die minste verwag nie,” sê tannie Poppie Coetzer (66), vir wie kykers so lief geraak het tydens haar deelname aan die kykNET-kookprogram Kokkedoor.
Hoewel sy in die pylvak van die kompetisie vasgeval het en gevolglik ook die gesogte kookboekkontrak moes prysgee, is daar nou nie ’n sweempie van die hartseer oor nie, want haar eie kookboek kom.
“Ek het gistermiddag rondom 17:00 gehoor Human & Rousseau het die groen lig gegee vir ’n kookboek; ek het dit glad nie verwag nie,” sê sy oorstelp.
“ ’n Ander uitgewer het my vroeër genader, maar nou is dit bevestig. Toe ek dit hoor, het ek ’n knop in my keel gekry en moes ek net ’n traantjie pik. Ek kon ná die tyd nie slaap nie; ek het omtrent mal gegaan!”
Die boek het nog nie ’n titel nie, maar sy het verklap sy gaan hard werk en deurdruk om die boek voor Kersfees op die rakke te hê.
“Ek beplan al lankal ’n kookboek, so die resepte is reg. Ek wil fokus op voorgeregte, sop, hoofgeregte, soetgebak, soutgebak, biltong, wors en vleis – die hele spektrum,” vertel sy opgewonde.
Intussen sal sy van Augustus ook vir 12 weke in die kykNET-ontbytprogram Ontbytsake in ’n kook-insetsel verskyn.
“Dis saam met André Schwartz en die insetsel se naam is Ouma’s Boerewors. Ons gaan vir die land verskillende geregte met lekker boerewors voorsit.”
En soos ons haar ken, gaan dié nuwe roem geensins kop toe nie. “My lewe is nou bedrywig; as ons op die pad is, het ek geleer om maar net by winkels in te glip en uit te glip.
“Maar ek bly ’n mens-mens – ek bly tannie Poppie – en niks gaan dit verander nie.”
– Christiaan Boonzaier