Die aktrise, skrywer en model Leandie du Randt gaan binnekort in die hospitaalgange van Binneland-kliniek te sien wees in die KykNET-sepie Binnelanders.
Dié blondine het onlangs op Twitter aangekondig sy gaan die rol van Ivanka Gouws vertolk en getwiet dat dit “die begin van ’n baie opwindende pad” is.
Hoewel dit nog onduidelik is of dit ’n heeltydse rol vir die Getroud met Rugby-ster gaan wees, sit sy vir geen oomblik stil nie.
Die aktrise was omtrent bedrywig die afgelope jaar: Nie net neem sy tans deel aan Strictly Come Dancing op SABC 3 nie; sy is ook te sien in die flieks Mooirivier, Hollywood in my Huis en Strikdas.
Leandie word deesdae opgemerk aan die sy van die komediant en sanger, Bouwer Bosch. Hulle is al byna twee jaar goed bevriend, maar dié vriendskap het nou in iets meer ontwikkel.
“Ek dink ons vriendskap is ’n goeie grondslag vir ons verhouding. En ons is presies dieselfde,” het sy aan Sarie.com gesê.
- Janine Nel