Brittanje se prins George vier Dinsdag sy eerste verjaardag met ’n partytjie geskik vir ’n koning. Sy ouers het goedgesindes oor die wêreld heen bedank vir hul ondersteuning.
Prins William en sy vrou, hertogin Catherine, gaan ’n privaat partytjie by hul woonstel by die Kensington-paleis in Londen gooi; net koninklikes en hegte vriende gaan dit bywoon.
Om die prins se verjaardag te gedenk, het hulle twee nuwe foto’s van die gesin uitgereik, wat wys hoe die skoenlappers by die Natuurhistoriese Museum in Londen klein George fassineer.
In ’n kort boodskap wat die foto’s vergesel het William en Catherine die publiek bedank vir hul vrygewigheid oor die afgelope jaar teenoor George.
“Ons wil graag hierdie geleentheid gebruik om almal te bedank vir hul ruim goeie wense aan George en ons gesin waar ook al ons hulle oor die afgelope jaar ontmoet het,” het hulle gesê.
In een van die foto’s kyk George na ’n blou Morpho-skoenlapper wat agterop sy pa se regterhand geland het.
Die kleintjie sit op ’n bank met sy ouers en lyk of hy die insek wil optel.
In die ander foto trek iets bokant hulle William, Catherine en hul seun se aandag.
Die fotograaf, John Stillwell, het gesê George, die derde troonopvolger, was “baie lewendig, seker van homself en selfverseker – ’n vasberade jong seun”.
Die foto’s is ’n paar weke gelede geneem. In die foto’s het George ’n kortbroek-oorpak aan met ’n T-hemp, skoene en sokkies.
Die koerant London Evening Standard het berig Catherine het self George se verjaardagkoek gebak.
“Die familie gaan die verjaardag privaat vier by die Kensington-paleis met hegte familie en vriende,” het ’n koninklike woordvoerder aan AFP gesê.
Koerante het gesê George se oumagrootjie, koningin Elizabeth II, gaan die partytjie bywoon, maar haar man, prins Philip, gaan moontlik nie bywoon nie, want hy het verpligtinge in Greenwich.
Gewildheid
William en Catherine, die hertog en hertogin van Cambridge, is vasbeslote om George so normaal moontlik groot te maak, en hou hom uit die openbare oog.
Maar tydens sy paar openbare verskynings het die oulike prins toeskouers se hart gesteel, veral tydens die toer van Australië en Nieu-Seeland.
En sy koms het die koninklike gesin se gewildheid ’n hupstoot gegee.
“Prins George se uitstappies is ’n herinnering aan wat die monargie so blywend gewild maak – sy menslikheid,” het die koerant The Daily Telegraph gesê.
“Die koningsgesin se lewe is ’n maatstaf vir ons eie. Hulle groei saam met ons, ervaar vreugde en en smart, en bevestig die lewe is meer plesierig wanneer dit as deel van die nasionale gemeenskap gedeel word.”
Sy Koninklike Hoogheid Prins George Alexander Louis van Cambridge is op 22 Julie 2013 om 16:14 gebore en het 3,8 kg geweeg.
William en Catherine is baie betrokke by die grootmaak van hul seun; hulle bad hom en sit hom self saans in die bed.
Hulle het onthul George was ’n luidrugtige baba en het aanvanklik baie gehuil omdat hy altyd honger was.
Om George se verjaardag te vier het die Koninklike Munt ’n silwer £5-muntstuk (’n kroon) uitgereik, met ’n ontwerp wat voorheen gebruik is om koningin Elizabeth se kroning in 1953 te gedenk.
- Robin Millard/Sapa