Rory McIlroy van Ierland het gister ’n Britse Ope-titel by sy groeiende lys prestasies gevoeg. Dié 25-jarige gholfspeler van Noord-Ierland is boonop slegs die derde speler (naas Tiger Woods en Jack Nicklaus) wat op so ’n jong ouderdom drie Major-titels kon wen.
Rory het ook in 2011 die Amerikaanse ope en in 2012 die Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen. Nou benodig hy nog net ’n groen baadjie van die Amerikaanse Meesterstoernooi om die sogenaamde Grand Slam te wen. As hy dit regkry, sal hy hom by ’n uitsoek-groep aansluit: slegs Jack, Tiger, Gene Sarazen, Ben Hogan en Suid-Afrika se Gary Player kon dit al vermag.
Met sy oorwinning Sondag by Holylake in die Verenigde Koninkryk het Rory nie net vir homself ’n yslike R17,5 miljoen gewen nie, maar ook vir sy pa, Gerry, ’n bonus-uitbetaling van meer as R900 000 verseker. Gerry het 10 jaar gelede, toe Rory nog 15 jaar oud was, sowat R1 800 gewed en gesê sy talentvolle seun sal teen 25 die Britse Ope wen.
Maar dié weddenskap was gister waarskynlik ver van Rory en sy gesin se gedagtes. Dit was die eerste keer dat sy ma, Rosie, by een van sy Major-oorwinnings was, en die nuwe kampioen het agterna gesê sy ouers se ondersteuning beteken vir hom baie. “Hulle het kleintyd so baie gedoen en opofferings vir my gemaak, maar selfs tot vandag toe is hulle al mense met wie ek oor enigiets kan praat; ek kan nie vir beter ouers vra nie.”
Oor sy sukses op die gholfbaan het Rory gesê: “Ek het nooit daarvan gedroom om hierdie punt in my loopbaan so gou te bereik nie. Dit het nog nie regtig ingesink nie. Maar hoe meer ek na hierdie trofee (die Britse Ope se Claret-beker) kyk en my naam daarop sien, hoe meer sal dit insink.”
Rory speel uitstekende gholf sedert hy in Mei sy verlowing aan die Deense tennisspeler Caroline Wozniacki beëindig het. Caroline het self gister ’n oorwinning behaal toe sy die Istanboel-beker wen.
Bronne: dailymail.co.uk, supersport.com, sapa.org