Prins William van Brittanje het in ’n verklaring gesê hy en sy vrou, Catherine, “kan nie gelukkiger wees” ná die geboorte van hul seun nie.
Hul eersteling is op Maandag 22 Julie om 16:24 (Britse tyd) gebore en hy sê hulle is in die wolke om hul baba in die wêreld te verwelkom. William het in ’n kort verklaring gesê: “Ons kan nie gelukkiger wees nie.”
Die nuwe troonopvolger, wat ná sy oupa prins Charles en pa die derde troonopvolger is, het 3,8 kg geweeg en is laatmiddag gebore in die Lindo-vleuel van St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen.
Dit gaan goed met die prinsie en sy ma en hulle sal na verwagting binnekort ontslaan word. William het die nuus eers aan sy pa, ouma koning Elizabeth en broer, prins Harry, oorgedra voor dit amptelik aan die publiek aangekondig is.
Gelukwensinge vir die koninklike egpaar en die nuwe prins het van oor die wêreld ingestroom. Die Britse premier, David Cameron, het gesê: “Dis wonderlike nuus van St. Mary, Paddington, en ek is seker mense van oor die land en die Statebond vier dit en wens die koninklike egpaar net die beste toe. Dis ’n belangrike oomblik vir ons nasie, maar ook ’n wonderlike oomblik vir ’n warm en liefdevolle egpaar wat ’n babaseun ryker is.”
Pres. Barack Obama van Amerika het namens hom en sy vrou, Michelle, ’n verklaring uitgereik. “Ek en Michelle is verheug om die hertog en hertogin van Cambridge geluk te wens met die vreugdevolle gebeurtenis van die geboorte van hul eerste kind. Ons wens hulle al die geluk en seën toe wat ouerskap bring.”