As jy dink koffie is sleg vir jou en iets wat jy moet laat staan, is daar goeie nuus: Dis eintlik ’n soort superkos. En as jy oefen, kan kafeïen jou selfs daarmee help. Hier is vyf redes waarom jy koffie as deel van ’n aktiewe leefstyl kan geniet, asook vyf riglyne vir gesonde koffie-inname.
Verbeterde bloedsomloop
Onlangse navorsing in Japan het die uitwerking van koffie ondersoek op die bloedsomloop van mense wat nie gereeld koffie drink nie. Elke deelnemer het ’n koppie gewone of kafeïenvrye koffie van sowat 150 ml gedrink. Agterna het die navorsers gekyk na bloedvloei in die vingers, ’n aanduiding van hoe goed die klein bloedvate in die liggaam werk. Dié wat koffie met kafeïen daarin gedrink het, het oor ’n tydperk van 75 minute ’n 30-persent-toename in bloedvloei ervaar vergeleke met dié wat die kafeïenvrye weergawe gedrink het. Beter bloedsomloop, beter oefensessie – jou spiere het suurstof nodig!
Minder pyn
Wetenskaplikes aan die Universiteit van Illinois het bevind mense wat ’n uur voor ’n halfuur lange intensiewe oefensessie kafeïen gelykstaande aan twee of drie koppies koffie drink, ervaar minder waargenome spierpyn. Die gevolgtrekking: Kafeïen help dalk dat jy ’n bietjie harder oefen en dus beter spierkrag of stamina ontwikkel.
Beter geheue
’n Ondersoek aan die Johns Hopkins-universiteit waarvan die bevindinge vanjaar gepubliseer is, toon dat kafeïen tot 24 uur ná inname die geheue kan verbeter. Navorsers het mense wat nie gereeld koffie drink nie, ’n reeks beelde laat bestudeer en vyf minute later óf ’n plasebo óf 200 mg kafeïen ingegee. Die volgende dag is albei groepe gevra om die beelde te onthou, en die groep wat die kafeïen gekry het, het aansienlik beter gevaar. Dit kan tydens oefensessies ook help, veral wanneer dit behels dat jy spesifieke oefeninge of roetines moet onthou.
Spierbehoud
In ’n proefneming op diere het sportwetenskaplikes aan die Universiteit van Coventry bevind dat kafeïen die verlies aan spierkrag weens ouderdom help keer. Die beskermende uitwerking is in die diafragma – die spier wat hoofsaaklik vir asemhaling verantwoordelik is – asook skeletspiere opgemerk. Die resultate toon matige inname van kafeïen kan algemene fiksheid help handhaaf en die risiko vir ouderdomsverwante beserings verminder.
Meer brandstof vir spiere
In ’n onlangse studie waarvan die uitslag in die Journal of Applied Physiology gepubliseer is, is bevind dat ’n bietjie kafeïen ná oefening ook voordelig is, veral vir langafstandatlete wat dag ná dag moet presteer. Die navorsers het bevind vier uur ná ’n intense, oefensessie wat glikogeen gebruik, het ’n kombinasie van koolhidrate en kafeïen (vergeleke met slegs koolhidrate) ’n toename van twee derdes in spierglikogeenvlakke tot gevolg gehad. Glikogeen, die vorm van koolhidrate wat in spiere gebêre word, dien tydens oefening as ’n soort energie-spaarbussie wat bewegings en uithouvermoë moontlik maak. As jy groter reserwes opbou, kan jy tydens jou volgende oefensessie harder of langer oefen.
Maar dié nuus beteken nie jy moet soveel koffie moontlik afsluk nie; jou goeie bedoelings kan boemerang. Hou by dié reëls as jy kafeïen se voordele die beste wil benut:
- Moet dit nie oordryf nie. Die maksimum aanbevole hoeveelheid wat prestasie met die minimum newe-effekte verbeter, is tot 6 mg per 1 kg liggaamsgewig; sowat 400 mg per dag vir ’n vrou van 68 kg. Dis drie tot vier bekers filterkoffie of vier tot vyf bekers kitskoffie per dag.
- Neem dit in op gesonde maniere. Maak koffie met amandelmelk en kaneel pleks van melk en suiker, of maak vrugtedrankies met koffie of tee, tesame met ander gesonde bestanddele soos amandelbotter en hawermout of quinoa.
- Wees konsekwent met jou inname. Navorsing toon dat jou liggaam aanpas wanneer jou kafeïen-inname bestendig is, al is kafeïen ’n natuurlike diuretikum.
Hou water steeds jou eerste keuse
Neem jou laaste kafeïen ses of meer uur voor slapenstyd in om slaapsteuring te voorkom, en luister na jou liggaam. Vind uit wat jou moeg maak as jy pal kafeïen nodig het om jou energie te gee. Dalk slaap jy te min, oefen jy te veel of eet jy nie reg nie. As iets skort, sal jy nmie kan vorder nie.