Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius ly nie aan algemene angssteuring, het die hooggeregshof in Pretoria Woensdag gehoor. Barry Roux, SC, vir Oscar, het uit twee verslae voorgelees van ’n psigiater en ’n sielkundige wat die atleet ondersoek het.
Volgens die verslae is Oscar kwaai getraumatiseer nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar geskiet het. Hy ly wel aan posttraumatiese stres. Oscar moet steeds kliniese sorg ontvang, anders sou sy toestand vererger. Daar bestaan ook ’n kans dat hy selfmoord kan pleeg, lees die verslag.
Aggressie is nie as deel van Oscar se persoonlikheid geïdentifiseer nie. “Dié wat weet, beskryf hom as saggeaard,” het Barry uit die verslag gelees.
Dit het ook gesê hy het konflik opgelos daardeur óf uit te praat óf dit te vermy. Die atleet het ’n geskiedenis van onsekerheid en gevoelens van kwesbaarheid. Daar was nie bewyse dat hy ’n angssteuring het nie. “Hy voldoen nie aan die kriteria vir algemene angssteuring nie.”
Volgens die verslag het Oscar opregte gevoelens vir Reeva gehad. “Al was die (verhouding) nog in die beginstadium, was daar geen tekens van mishandeling.”
Barry en die aanklaer, Gerrie Nel, het saamgestem dat Oscar nie gekruiondervra gaan word nie. Oscar staan tereg weens moord nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Sy is in die heup, arm en kop getref. Nadat hy die skote afgevuur het, het hy ’n krieketkolf gebruik om die deur oop te breek om by die noodlottig gewonde Reeva uit te kom.
Hy het onskuldig op die moordaanklag gepleit, asook aanklagte wat met vuurwapens verband hou. Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet. ’n Dosent in sport- en oefeningsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad, Wayne Derman, is volgende geroep om te getuig. Is sy hoedanigheid as sportgeneesheer het hy ses jaar lank met Oscar gewerk.