Beyoncé pryk heel bo aan die tydskrif Forbes se jaarlikse Celebrity 100-lysie.
Die Drunk in Love-sangeres is eerste op die jaarlikse lysie – wat gegrond is op geraamde inkomste, hoeveel keer die glanspersoon se naam in die media opduik, hul bedrywighede op sosiale media en geraamde invloed – met ’n geraamde inkomste van R1,3 biljoen die afgelope jaar, ’n yslike R473 miljoen meer as die basketbalspeler LeBron James, wat die tweede plek beklee.
Beyoncé het by 95 konserte as deel van haar toer opgetree en na raming sowat R26 miljoen per optrede verdien. Sy was ook die gesig van advertensieveldtogte vir Pepsi en H&M, en het haar eie parfuum- en klerereeks. Dit het haar die topplek by Oprah Winfrey help oorneem, wat verlede jaar die eerste plek gehaal het, maar vanjaar vierde geëindig het.
Dr. Dre het die grootste fortuin agter sy naam in die top-10 – ’n ongelooflike R6,8 biljoen. Dit is ook die meeste geld wat enige glansmens in ’n enkele jaar in die geskiedenis van die lysie laat inrol het, maar hy het die derde plek gehaal. Die kletsprogram-aanbieder Ellen DeGeneres is vyfde, en Beyoncé se man, Jay-Z, is sesde. Die bokser Floyd Mayweather, sangeresse Rihanna en Katy Perry en die akteur Robert Downey jr. het die top-10 voltooi.
Forbes se Celebrity 100 top-10-lysie vir 2014:
- Beyoncé – R1,3 biljoen
- LeBron James – R792 miljoen
- Dr. Dre – R6,8 biljoen
- Oprah Winfrey – R902 miljoen
- Ellen DeGeneres – R770 miljoen
- Jay Z – R660 miljoen
- Floyd Mayweather – R1,1 biljoen
- Rihanna – R528 miljoen
- Katy Perry – R440 miljoen
- Robert Downey jr. – R825 miljoen