Tandepasta maak jou tande skoon (en beskerm teen gaatjies en aanpaksels, soos party handelsmerke beloof), maar het jy geweet ’n bietjie tandepasta sal jou strykyster kan skoonmaak?
Hier is 10 ander gebruike vir tandepasta:
- Maak hoofligte skoon: Vuil hoofligte kan ’n dowwer lig uitstraal, maar ’n bietjie tandepasta op ’n lappie sal dit weer laat blink. Vryf tot skoon, spoel af met water en poleer dan met ’n sagte, droë lappie.
- Skoon bril sonder wasem: ’n Klein bietjie tandepasta wat op jou brilglase ingevryf word, sal klein skrapies help bedek en verhoed dat dit in vogtige toestande wasem. Jy kan dieselfde doen met swembrille om te verhoed dat dit onderwater toewasem.
- Muskietbyt se moses: Standaard (nie die jeltipe) tandepasta op ’n muskietbyt sal die gejeuk verlig en van die rooiheid help ontslae raak. As jy die tandepasta daarop los, sal dit ook keer dat jy dit krap.
- Skoon vingernaels: Gebruik tandepasta en ’n ou tandeborsel om onder jou vingernaels te skrop nadat jy geverf, kunsvlyt gedoen of in die tuin gewerk het. Dit sal agterna silwerskoon wees en die tandepasta help die keratien in jou naels versterk. As jy gereeld ’n tandepasta wat beloof om tande witter te maak so gebruik en sowat vyf minute op jou naels los, kan dit ook geel vingernaels helderder laat lyk.
- Kry kougom uit jou hare: Smeer tandepasta oor kougom en vryf tot die kougom opbreek. Haal die oortollige stukkies uit en was dan die hare deeglik. Dit behoort heeltemal van die kougom ontslae te raak.
- Maak jou strykyster skoon: Tandepasta werk uitstekend om die opbou van minerale op jou strykyster af te breek. Gebruik ’n ou tandeborsel op ’n koue strykyster en skrop die tandepasta tot in die klein gaatjies op die strykster. Vee af met klam handdoekpapier tot dit skoon is, en siedaar, jy kan weer stryk.
- Verwyder vlekke: Tandepasta sal ontslae raak van lipstiffie, grasmerke en inkvlekke op klere, vloere of mure. Wend ’n bietjie tandepasta aan, vryf dit liggies in en spoel dit dadelik af. Herhaal tot die vlek weg is. Onthou om ’n klein stukkie te toets op gekleurde materiaal en oppervlakke omdat tandepasta wat tande witter maak beslis ’n bleik-effek kan hê.
- Verwyder krytmerke van mure: Tandepasta sal ook ontslae raak van krytmerke op mure (of selfs ’n hele kunswerk indien nodig). Druk ’n bietjie tandepasta uit op ’n klam lap en vryf dit sagkens in sirkelbewegings tot al die krytmerke gelig is. Dit behoort veilig te wees op geverfde oppervlakke, maar as die merke groot is, moet jy die tandepasta-tegniek eers op ’n klein area toets. Wag 24 uur om te kyk of die verf nie daardeur beïnvloed is nie voor jy ’n hele muur aanpak.
- Verwyder skrape op leer: Skuurmerke en ligte skrape op leermeubels sal verdwyn as jy dit met ’n bietjie tandepasta op ’n sagte lappie vryf. Vee af met ’n klam lap.
- Maak plastiekmeubels skoon: Tandepasta en ’n skropborsel sal klaarspeel met hardnekkige vlekke op plastiekmeubels. ’n Goeie skropsessie sal dit splinternuut laat lyk, veral as jy die soort tandepasta wat tande witter maak op wit meubels gebruik.