Trek jou snesies nader! ’n Video wat wys hoe ’n Suid-Afrikaanse man sy Amerikaanse meisie op ’n lughawe in die Amerikaanse deelstaat Missouri vra om te trou, is besig om soos ’n veldbrand te versprei en laat die trane rol.
Die man, George Erasmus van Kaapstad, het sy meisie, Ashley Kracht, sowat vier jaar gelede in Kaapstad ontmoet toe sy hier sendingwerk doen. Die tweetjies het vinnig smoorverlief geraak en is kort daarna gekys. Hoewel sy volgens dieburger.com heeltyds in Suid-Afrika woon, het sy onlangs by haar ouers in Amerika gaan kuier.
Toe George laat weet hy kom ook kuier, het sy grootoog vir hom op die lughawe gewag, maar was stomgeslaan toe elke passasier op George se vlug een vir een vir haar ’n gousblom gee. George het heel laaste met ’n groot bos blomme nader gestap, gekniel en haar eindelik gevra om te trou terwyl ’n liedjie wat hy spesiaal vir haar geskryf het, deur die lughawe weergalm het.
“Ek beplan dit al sedert Januarie,” het George vir 41 Action News, ’n plaaslike televisiekanaal in Kansas, vertel. “Ek wag al lank – en dit was moeilik om dit geheim te hou!”
Nadat Ashley vir hom die jawoord gegee het, het sy gesê: “Ek is heeltemal oorstelp. Ek bewe. Ek het dit glad nie verwag nie!”
Dit paartjie beplan om in Januarie af te haak, maar dis nog onbekend of dit op eie bodem sal wees. Ashley beplan glo wel volgens dieburger.com om ’n kleuterskool op Sir Lowry’s Pass te stig.
Kyk die romantiese video hier:
Christiaan Boonzaier