Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Kokkedoor se Leroux en Lindé: “’n Blikkie karamel was ons einde!”

$
0
0

Ná 10 lang weke se geswoeg agter die kospotte het ’n klein blikkie karamel – van alle dinge! – eindelik Langebaan se Leroux van Vuuren (45) en sy spanmaat van George, Lindé Watson (22), se einde in die reeks beteken.

Hulle is baie spyt oor daardie blikkie, sê die paar, maar hulle het ’n hegte vriendskap gebou en het saam groot planne vir die toekoms. Hulle vertel ons meer van dié toekomsdrome en hoe die publiek gereageer het nadat artikels oor albei in Huisgenoot en ons sustertydskrif YOU verskyn het.

Ons hoef seker nie te vra wat in die uitdaging skeefgeloop het nie . . .

  • Leroux: Dit was ’n verskriklik lekker uitdaging en ons het dit baie geniet, maar ons het ’n blikkie Treat-karamel gebruik toe ons eintlik ons eie moes maak. Ek dink Treat is so ’n groot deel van Suid-Afrikaners se koskultuur dat ons nie twee keer gedink het om dit te gebruik nie. In die topvyf soek Hetta en Nic wel klein foutjies – en ons s’n was nou daardie blikkie! Ek raak sommer klaar lus vir een of twee . . .
  • Lindé: Ons het dalk ook nie die uitdaging so goed verstaan nie. Dalk moes ons meer op die kuns gefokus het en ’n bietjie dieper gedink het, maar ja, die blikkie karamel was ons doodsteek. (Lag.)

Stem julle saam met die beoordelaars, Hetta en Nic, se kommentaar?

  • Leroux: Ons het albei by die kunsuitstalling besef ons het ’n fout gemaak en dadelik geweet dit is ons einde. Hoewel Hetta en Nic gesê het ons “kunswerk” lyk soos ’n doodgewone bord kos, en ek baie respek vir hul mening het, dink ek elkeen het hul eie interpretasie van kuns . . .
  • Lindé: Ek stem eintlik saam met die beoordelaars; daarby was ons tydsbeplanning nie goed nie. Die kompetisie is in die pylvak ongelooflik straf, dus kan die geringste foutjie jou huis toe stuur.

Julle het as ’n span baie goed saamgewerk – waarskynlik die beste van al jul vorige spanmaats. Waaraan skryf julle jul kameraderie toe?

  • Leroux: Ek stem nie heeltemal saam nie. Ek het ook ongelooflik lekker gewerk met Jay en Alet, en ons is nou almal huisvriende. So ook het ek en Lindé lekker saamgewerk, want ek dink ons was toe al die kameras gewoond en kon lekker voor die kameras baljaar. Ek dink ek was ook ’n soort vaderfiguur vir haar. Sy het gehou van my humor; dit het dadelik die spanning gelig en ons albei laat ontspan.
  • Lindé: Ja, die goeie samewerking berus maar op ons hegte vriendskap, en hy het vir my soos familie gevoel. Daar was wedersydse vertroue en baie eerlikheid, wat gemaak het dat ons die beste in mekaar uitbring. Ek het deur die samewerking baie oor myself geleer – en hy het my lekker laat lag!

Wat is jul grootste bloosoomblik op stel?

  • Leroux: Ons het een keer by die langtafel gesit en wag vir die beoordelaars. Almal was gespanne, toe wou ek die spanning breek. Ek het opgestaan en Mariëtta (die aanbieder) begin namaak. Almal het geskater van die lag. Min het ek geweet die hele tegniese span – én Mariëtta! – hou ons in die kontrolekamer dop. Ek was nogal rooi in die gesig toe sy by die langtafel kom staan en my vra om dit weer te doen…
  • Lindé: ’n Kameraman het my een keer met ’n blikkie kondensmelk betrap. Ek het dit op die vloer agter ’n muurtjie gesit en eet. Gelukkig is dit nooit uitgesaai nie. (Lag.)

Daar is nog vier spanne oor. Wie wil julle hê moet wen?

  • Leroux: Nee wat, almal is ewe goed en verdien om te wen. Enigeen kan nou bo uitkom en die prys opraap.
  • Lindé: Ek stem saam: Die topvier is almal goed en verdien om te wen, maar ek hou eintlik duim vas vir Johnny. Hy het die “x-faktor”, en ek hoop hy maak dit ten minste tot in die toptwee.

Julle het albei baie emosionele, persoonlike dele van jul lewe in Huisgenoot en ons sustertydskrif YOU gedeel: Leroux, jy het gepraat oor jou destydse kodeïenverslawing, en Lindé, jy oor jou gewigsverlies van byna 100 kg ná ’n omstrede en nou onwettige dundermomleiding. Wat was die reaksie daarop?

  • Leroux: Dit was moeilik, maar die publiek se reaksie was oorweldigend en ek kry baie bemoediging uit die gemeenskap. ’n Paar vreemdelinge het my wel gekontak en hulp en raad gevra. Kodeïenverslawing is groter as wat die publiek dink, so as ek net een mens kan help, was die artikel die moeite werd.
  • Lindé: My vriende, familie en die publiek is ongelooflik ondersteunend. Ek het letterlik dosyne oproepe en e-posse van die publiek gekry wat my ondersteun of vra vir raad. Ek kan nie genoeg dankie sê daarvoor nie.

Julle het ook albei jul eie restaurant. Wat het Kokkedoor vir jul sake gedoen?

  • Leroux: Kokkedoor-kykers is nog nie bewus dat Lekka by die See op Langebaan my restaurant is nie. Ek kry heelwat mense wat toevallig hier inval en vreeslik verbaas is as hulle my sien, maar ek dink die reeks sal mettertyd beslis ’n invloed hê.
  • Lindé: Dit het natuurlik gesorg vir baie kosbare publisiteit. My restaurant, The Bench, maak oor twee weke in George oop. Kokkedoor-aanhangers kan gerus kom inloer vir koffie.

Wat lê volgende vir julle voor?

  • Leroux: Ek is besig! Tans doen ek en ses ander Kokkedore raaiseletes landwyd; dis baie gewild. Ek het ook baie in die reeks grappe gemaak oor akteur wees in Binnelanders, maar eintlik is ek ernstig. Ek sal graag my buiging in die sepie wil maak, maar dis nog net ’n jarelange droom!
  • Lindé: Ek en Leroux is so ’n goeie span dat ons besluit het om saam op te tree. Ons beoog om musiek en kos te kombineer in ’n produksie, Kos, Kers en Kabaret. Ons moet Marinda Engelbrecht, ’n onthoukok in die eerste seisoen van Kokkedoor, bedank vir die oorspronklike naam! Ons eerste optrede is by die Vodacom-George-kaasfees tussen 25 en 27 Julie. Ons sal graag landwyd en in Namibië wil toer. Wie weet, dalk is ons nog in die toekoms ook op die Huisgenoot-Skouspel-verhoog en in Binnelanders? (Lag.)

- Christiaan Boonzaier


Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>