Die meeste vroue wend hulle tot hul vriendinne vir troos en steun nadat ’n man hulle verkul het.
Maar die Brit Mary Harper het ’n ongewone vriendin gekry nadat haar man haar verneuk het – sy einste minnares!
Ná sowat 20 jaar se getroude lewe het David in 1998 ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop met Gilda, ’n student van Duitsland, berig die Daily Mail.
Mary het naderhand van die verhouding te wete gekom, maar pleks dat sy David die trekpas gegee het, het sy daarop aangedring sy wou Mary ontmoet; so het ’n onwaarskynlike vriendskap ontstaan.
Meer as 15 jaar ná Gilda en David se affair is die drie nou boesemvriende; Mary het David en Gilda lankal vergewe.
Trouens, die drie is so goed bevriend dat hulle al saam op ’n fietstoer was in Spanje en gereeld saam operauitvoerings en sokkerwedstryde bywoon.
Op die fietstoer het hulle selfs met ’n spesiale fiets vir drie mense gery, met David voor, Gilda in die middel en Mary agter.
David het die fiets heel speels Threesome gedoop.
Ander vroue is egter nie so vergewensgesind nie en ontsien geen moeite om hul mans en dié se minnaresse te laat les opsê nie.
Timeshia Brown, ’n vrou van Texas in Amerika, het in Mei vanjaar ’n koerantadvertensie laat plaas nadat sy uitgevind het haar man het ’n buite-egtelike verhouding.
“Ek wil graag geluk sê aan Shara Cormier en Patrick Brown. Hulle verwag ’n baba. Ek hoop julle is baie verlief en dat julle verhouding uitwerk. Liefde, Patrick se vrou, Timeshia Brown.”
’n Britse vrou het ook in Mei vanjaar haar buurt teen haar man se dwalende oog gewaarsku deur plakkate van hom oral in hul buurt op te plak.
“Waarskuwing: Plaaslike verneukende, liegende lae lak. Pa van twee. Hy het van sy gesin af weggeloop en hulle met ’n nota ingelig.”
Bronne: Daily Mail; Examiner.com; Metro UK