Dit is vanaand op die kassie:
16:30 Kokkedoor (kykNET): ’n Afval-aand herdenk dié weggooivleis se herwaardering in fynkook-kringe. Tong en rolpens kry die restaurant-behandeling in ’n marathon-kookuitdaging. Die gassjef wys hoe om afval van vaal na gastronomies te neem.
17:00 After Earth (M-Net): ’n Vliegtuigongeluk laat ’n seun en sy pa gestrand op aarde ’n millennium nadat die mensdom dit verlaat het. Saam moet hulle veg vir oorlewing in dié nuwe, onbekende wêreld.
18:00 Kwêla (kykNET): Coenie praat met die akteur en skrywer Simon Bruinders. Die Kwêla-span gaan kuier ook by Laerskool Buffeljagsrivier, waar hulle saam met die kinders toutrek, kaas maak en klas loop in hul boomhuis. Op Robertson kuier hulle ook by Willem Stemmet, die koperketelstoker van die jaar en ’n mampoermaker van formaat.
18:30 Friends like these (SABC 1): Vriendskappe word getoets waar twee spanne teen mekaar moet meeding om hul droomvakansie te wen.
19:30 Jukebox (kykNET): Onthou jou afspraak met Pieter Koen! Hy kuier soos gewoonlik saam met kykers wat inbel, lees ’n paar e-posse en vind uit wat Jukebox-vriende op Facebook te sê het.
19:45 Elementary (M-Net): Sherlock Holmes en sy betroubare handlanger, Joan Watson, ondersoek die New Yorkse polisiekantoor se ingewikkeldste sake.
20:00 The X Factor USA (SABC2): Kyk hoe Simon Cowell, Demi Lovato, Kelly Rowland en Paulina Rubio saam nuwe talent ontdek.
20:00 Grown Ups (e.tv): Nadat hul hoërskoolbasketbal-afrigter oorlede is, herenig vyf goeie vriende en voormalige spanmaats vir ’n vakansienaweek.
20:45 Two and a Half Men (M-Net): Charlie se buite-egtelike dogter daag onverwags op, en nie net is Alan verbaas oor haar bestaan nie, maar ook oor hoe baie sy na Charlie aard.