Suid-Afrika se kragstelsel gaan gedurende die winter steeds onder druk verkeer, het Eskom se waarnemende hoof uitvoerende beampte, Collin Matjila, Donderdag gesê.
“Die land is steeds kwesbaar wees en gedurende die winter sal dit nie verander nie,” het Collin in Johannesburg aan verslaggewers gesê.
“Terwyl ons voortgaan met instandhoudingswerk as deel van ons strategie, gaan ons instandhoudingsrooster afgeskaal word.”
Eskom het gedurende die somer baie positiewe samewerking ontvang van industriële en sakegebruikers, maar op 20 en 21 Februarie en 6 Maart is noodsituasies verklaar.
Op 6 Maart het die kragvoorsiener die eerste keer in ses jaar doelbewuste kragonderbrekings ingestel, het Collin gesê.
“Na aanleiding van die inligting wat ons van weervoorspellers gekry het, kan ons beraam dat hierdie winter min of meer dieselfde as verlede jaar s’n gaan wees,” het hy gesê.
“Ons verwag nie ’n swaar winter nie.”
Tog word daar voorsorg getref vir die eise aan die kragstelsel.
“Ons is beter toegerus om Suid-Afrikaners te verseker van ons vermoë om elektrisiteit te verskaf,” het Collins gesê.
Hy het klante sterk aangeraai om hul verbruik so laag moontlik te hou, veral tussen vyfuur en negeuur saans, deur ongebruikte toestelle, ligte, geisers af te skakel en gasverwarmers te gebruik.
“Tussen nou en die 16de Junie gaan ons onder baie druk verkeer.
“Ons moet dié tydperk baie mooi bestuur. Ons kan dit nie alleen doen nie; ons kan nie spitstyd alleen klop nie.”
Wat steenkoolvoorraad by kragstasies betref, het die meerderheid stasies voorraad vir 45 dae; die minimum is 42 dae.
Dié wat nie aan die minimum voorraad voldoen nie, gaan hul voorraad aanvul.
Die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, wat voor Collin gepraat het, het gesê elektrisiteit is steeds een van die belangrike boustene van groei, en kragonderbrekings is die laaste uitweg.
“Ek wil mense verseker die besluit om beurtkrag in te stel is en was nie ’n ligte een nie,” het sy gesê.
“Beurtkrag bly ’n laaste uitweg, maar sal ingestel word om druk van die kragstelsel te verlig.”
Eskom se voorsitter, Zola Tsotsi, het gesê die aanstelling van ’n permanente hoof uitvoerende beampte was in ’n gevorderde stadium; voorleggings in dié verband is aan die minister gemaak.
Woensdag het Collin in ’n verklaring gesê Eskom se uitvoerende beamptes sal hul jaarlikse bonus prysgee om die tekort van R255 biljoen te probeer teenwerk.
Volgens Eskom het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika ( Nersa) ’n tariefverhoging van 8% goedgekeur, wat dit met ’n leemte in fondse gelaat het.
- Sapa