Met hierdie skoonheidswenke kan jy gewone kombuisbestanddele in skoonheidsmiddels omskep – sonder dat dit jou sak ruk
VEELSYDIGE KOEKSODA
- As ’n verhelderingsjampoe
Meng 10 ml (2 t) koeksoda met 250 ml (1 k) water en gebruik dit as ’n laaste spoelmiddel nadat jy jou hare met sjampoe gewas het.
- As ’n gesigreiniger
Meng 2 ml (½ t) koeksoda met jou gunsteling-reiniger vir ekstra afskilfering sodat jy nie ’n aparte skropmiddel hoef te koop nie. Dit is geskik as ’n weeklikse behandeling vir alle velsoorte.
- As ’n voetpoeier
Strooi ’n bietjie koeksoda in jou skoene om te keer dat jou voete stink.
- As ’n tandverwitter
Dit smaak ’n bietjie souterig, maar koeksoda is ’n klassieke tandreiniger en -verwitter. Strooi dit op ’n klam tandeborsel en borsel soos gewoonlik.
BEVOGTIGENDE HEUNING
- Gebruik dit as ’n haaropknapper
Masseer 15 ml (1 e) suiwer heuning by klam hare in nadat jy dit met sjampoe gewas het. Spoel die heuning ná 30 minute met warm water af. Die heuning trek vog aan en hou dit in jou hare.
- En as ’n gesigmasker
Heuning is ’n uitstekende behandeling vir aknee of ’n droë vel. Smeer dit aan en spoel dit ná 15 minute met warm water af. Heuning is ’n sterk antioksidant; daarom beveg dit puisies.
SPA-BEHANDELING BY DIE HUIS
Vir ’n eenvoudige maar doeltreffende hidroterapie-sessie, begin jou dag met ’n warm stort. Draai net voor jy klaar is jy die koue kraan vir 15 sekondes oop. Herhaal die proses 2 minute lank.
Hierdie tegniek sal jou vel verfris en laat gloei, want dit stimuleer die bloedvloei na die vel.
TATTA, POFFERIGE OË
Rou aartappels is die ideale plaasvervanger vir duur oogroom – ja, ons is ernstig! Sny die aartappel in skywe en plaas dit op jou ooglede om pofferigheid te verminder. Komkommerskywe en koue teesakkies sal ook moeë, opgeswelde oë help streel.
MOOI NAELS
Kitskuur vir geel, gevlekte naels: Ons is dol oor hierdie wenk! Vryf met ’n vars gesnyde suurlemoen oor jou naels om die geel te help verdof of meng 5 ml (1 t) suurlemoensap met 30 ml (2 e) water en week jou naels 15 minute lank daarin.
Van naels gepraat . . .
’n Weeklikse manikuur kan jou begroting knou; probeer daarom meer gereeld jou eie naels versorg. Wanneer jy eers die proses bemeester het, sal jy wonder waarom jy ooit soveel tyd en geld by die salon bestee het.
- Janine Nel
BRON: WIKIHOW.COM, HUFFINGTONPOST.COM, BUDGETSTYLE.ABOUT.COM, DAILYMAKEOVER.COM, WOMENSHEALTHMAG.COM