Justin Bieber was glo vroeër vandeesweek in ’n woordewisseling betrokke met ’n vrou wat hom by perdestalle probeer afneem het.
Die Believe-sanger was Maandag by die Circle K Stables in Burbank, Kalifornië, in ’n onderonsie met Melinda Giel-Murray, slegs ure voor hy na bewering by ’n mini-gholfbaan ’n vrou se foon probeer afvat het.
Melinda het aan TMZ gesê sy was met haar perde by die stalle toe die 20-jarige ster daar opdaag om te gaan ry en skoon die kluts kwytraak toe sy haar kamera uithaal.
In video-materiaal kan gehoor word hoe hy Melinda uitwys en sê: “daardie t*** daar”.
Die ruiter sê vier van die ster se veiligheidswagte het haar toe omsingel en probeer intimideer, maar sy het haar man gestaan en vir hulle gesê daar is geen wet wat haar verbied om foto’s te neem nie.
Die Beauty and a Beat-sanger, wat volgens haar baie vreemd en senuagtig opgetree het, het toe na ’n ander deel van die plek gery en sonder ’n hemp aan opgesaal.
Vroeër vandeesweek is onthul die polisie ondersoek bewerings dat die Kanadese ster by Sherman Oaks Castle Park ’n vrou se foon probeer steel het.
Die onbekende vrou beweer Justin het aangedring om haar foon te sien sodat hy foto’s daarop kon uitvee, maar sy het geweier en hy het dit uit haar sak gegryp.
Sy het met die ster begin stoei vir die foon, en al het hy dit uit haar hande geruk, kon hy nie by die foto’s uitkom nie, want die foon was gesluit.
Justin het toe geëis dat sy dit ontsluit en sy het bewys sy het nie foto’s geneem nie.
Die polisie het die sanger nog nie oor die beweerde voorval ondervra nie, maar hy het hom later tot Twitter gewend om blykbaar die bewerings te ontken.