Die vierstuks van Die Heuwels Fantasties is nou amptelik ’n trio ná ’n skeiding in die groep.
Volgens die groep se baskitaarspeler, Hunter Kennedy, kom die skeiding met die groep se tromspeler, Philip Erasmus, al ’n rukkie aan.
“Dis natuurlik nooit lekker nie,” het hy in ’n mediaverklaring gesê, “maar die drie van ons (Hunter en die ander twee lede, Fred den Hartog en Pierre Greeff) het besluit dat ons skeiding met hom die enigste pad vorentoe is vir die groep.”
Dit is onbekend wat presies die skeiding veroorsaak het.
In ’n video op die groep se Facebook-blad en Twitter-profiel – waarvan die ander drie lede volgens Hunter nie bewus is nie – sê Philip dat hy net tot Afrikaanse musiek toegetree het om geld te maak.
“Ek het gedink dit (Afrikaanse musiek) was my huis, en ek het gedink ek gaan baie geld maak en nog deeltyds my eie ding kan doen.
“Ek het dit wat regtig koel is vir geld opgeoffer, en kyk waar is ek nou. Al wat ek vir myself wou koop, is ’n nice Audi TT, en nou gaan dit van my af weggevat word.
“*** jou, ******! Jy kry nou finaal wat jy wil hê! Ek is uit!”
Die groep se bestuurder, Louise Crouse, het bevestig die videogreep is Philip se amptelike mediaverklaring.
Volgens Hunter is “wat ook al nou hier aangaan (die onverwagse video) nie bespreek of beplan nie”.
“Ons is baie lief vir Phil, maar is op die oomblik ’n bietjie bekommerd oor hom. Miskien is dit net ’n laaste bemarkingsfoefie?”
Kyk Philip se hele videoverklaring hier:
– Christiaan Boonzaier