In die vyfde episode van kykNET se kostreffer Kokkedoor het ’n groot kinkel ’n kinkel- en onthoukok uit verskillende spanne huis toe gestuur.
Maar, hoewel die skrif duidelik aan die muur vir Calvinia se Jo Fritz, ‘n onthoukok, was, sê hy ook dat hy gevra het om huis toe te gaan.
Hy verduidelik eksklusief aan Huisgenoot hoekom hy al tydens die verfilming van die tweede episode gevra het om die trekpas te kry. Die ander kinkelkok wat in die pad gesteek is, is Cindy Menigo.
Hoe voel jy ná gisteraand se episode?
Kykers het seker gisteraand gesien ek is een van die deelnemers wat met ’n glimlag uit die reeks gestap het. Ek dink die tyd was reg; ek het my doel vervul.
Wat het met jul gebak skeefgeloop?
Kyk, Hetta is ’n baie goeie beoordelaar wat baie opbouende kritiek gee, maar ek stem glad nie saam met haar kommentaar dat ons koek soos ’n kinderverjaardagkoek gelyk het nie. Ek dink kinderverjaardagkoeke is vol kleur, maar ons s’n was nie. Hetta het ook genoem die suiker is nie regdeur gemeng nie, wat luggate veroorsaak het. Ons mengsel was baie goed geklits en daar was nie luggate in nie. As suiker nie goed deurgemeng is nie, het die koek ’n growwe tekstuur, en dit was glad nie die geval met ons nie.
Dink jy ’n ander span het verdien om die trekpas te kry?
Dis moeilik om kommentaar daarop te lewer, want ek wou ook huis toe gaan – en ek het dit vir die reeks se vervaardigers gesê.
So, ongeag dat die beoordelaars gedink het dis jou beurt om te gaan, was jy elk geval gereed om te gaan?
Ja, ek het gesê ek wil huis toe gaan. Net voor ek Prins Albert toe is om aan Kokkedoor deel te neem, is my seuntjie, Josh (9), ernstig beseer; ’n oefenapparaat het op hom geval en hy moes steke in sy kop kry. Dis moeilik vir ’n pa om in tye van nood nie by sy enigste kind te wees nie.
Hoe gaan dit nou met Josh?
Hy is nou gesond en piekfyn. Ek het eintlik al vroeër gevra om te waai – ek dink met die tweede episode – maar die vervaardigers het my gevra om te bly. Ek het aanvanklik deurgedruk, maar eindelik gevoel my kind het my meer nodig as mense wat jou onderdruk.
Wat bedoel jy met mense wat jou onderdruk?
Daar was omstandighede agter die skerms wat die ondervinding vir my onaangenaam gemaak het. In elke episode wou my kinkelkok-spanmaats (eers Josia, toe Orscilla) die laaste sê hê; my insette is net nie aanvaar nie. Ek kon my nie uitleef nie, want ek is van nature nie ’n persoon wat baklei en lelik is wanneer ek my standpunte maak nie, en moes maar later my eie insette onderdruk. Dit het my so ongelukkig gemaak. Ek bedoel, ek is al meer as 20 jaar ’n spysenier: Ek het my eie onderneming op ’n straathoek begin, ek besit vandag my eie gastehuis, Jo’s Guest House, met 17 kamers en ’n restaurant, Hantamkraal-restaurant. Ek is al drie keer deur die departement van toerisme genooi om motiveringspraatjies te lewer; ek is Eteya se entrepreneur van die jaar (2013/14) in die Noord-Kaap… maar ek is in die reeks laat voel ek weet nie wat ek doen nie. Dit het my glad nie meer lus vir die reeks gemaak nie.
Was daar goeie tye; iets wat jy gaan mis noudat jy die reeks verlaat het?
Ek het daarvan gehou om die goeie in van die deelnemers uit te bring, maar gelukkig het ek dit nie daar gelos nie; dis nou nog met my. My vriendskappe met Arthur en Ronel sal my lewenslank na aan die hart lê. Ons is in Prins Albert in trane uitmekaar, maar ons het gekliek, en ek en Arthur het groot toekomsplanne saam.
Wat het jy oor jouself geleer ná jou TV-ondervinding?
Ek het weereens besef watter beginselvaste mens ek is. Al gee jy my ’n spul geld, sal ek nooit my beginsels oorboord gooi nie. Wat my die gelukkigste maak, is wanneer mense saam met my kan lag, maar dit het ál meer net gegaan oor geld en wen – en dit het al die glimlagte laat verdwyn. Gelukkig het ek darem ’n paar vriendskappe gewen; daarom kan ek met tevredenheid in my hart die reeks groet.
Kykers is verlief op jou uitbundige lag. Is jy verbaas daaroor?
Nie eintlik nie. Ondanks genoeg erns in die lewe kan ek net God dank dat ek net wil lag en gedurig ’n glimlag op ander se gesig wil sit; dit is wie ek is. Sodra ek met mense in kontak kom, word my persoonlikheid uitgestraal en kan die gelag nie ophou nie.
Wie dink jy verdien om te wen?
Chris en Arthur. Chris is die mees ervare kinkelkok in die reeks. Ander spanne kan dalk kos met ’n meer ervare aanslag berei, maar hy maak kos soos ons dit onthou en geniet. Ek sal baie graag by hom wil leer. Arthur het geen tersiêre opleiding nie, maar sy ondervinding gee hom die vaardigheid om by van die beste kinkelkokke te kan byhou. Ek is ’n paar jaar ouer as Arthur, maar ek kan ook baie by hom leer.
Wat is jou toekomsplanne?
Ek en Arthur het gisteraand ons eie maatskappy geloods, Karoo Kambro Catering Company, met die slagspreuk Real Food for Real People. Ons wil Karoo-kos tot sy reg bring. In vandag se lewe word onthoukos te veel verwesters. Jy kan onthoukos tot ’n sekere punt vernuwe, maar daarna raak dit net nie meer onthoukos nie. Ons wil vandag se kinders wys wat onthoukos regtig is sodat ’n nuwe geslag daarvan kan leer.
En hou maar ’n ogie uit. Ek en Arthur is ook ekstras in ’n nuwe rolprent, Hollywood in my Huis. Arthur het ons daar ingetrek; ons is deel van die crowd, maar is nie seker of iemand ons sal kan sien nie.
Hoe kan aanhangers met jou kontak behou?
Die maklikste is Facebook; soek vir Johan Edwin Fritz.
– Christiaan Boonzaier