Kim Kardashian en Kanye West het na bewering getrou.
Die paartjie, wat in Oktober verloof geraak het, het na bewering die afgelope naweek in ’n privaat seremonie in Los Angeles afgehaak nadat hulle verlede week hul troulisensie gekry het.
’n Bron het aan die tydskrif Life & Style gesê: “Kim en Kanye is nou op papier getroud. Hulle het ’n paar dae gelede in Los Angeles hul troulisensie gekry.”
Maar die geheime seremonie gaan nie hul enigste troue wees nie; die twee beplan om later vandeesmaand in Parys in ’n glansryke seremonie voor familie, vriende en A-lys-vriende ewige trou aan mekaar te beloof.
Die paartjie – wat ’n 10 maande oue dogter, North, het – se groot dag is 24 Mei, waarna hulle op ’n geheime plek wittebrood gaan hou.
Kim (33) en Kanye (36) is gedwing om in Kalifornië wettig te trou voor hul romantiese seremonie in Parys nadat hulle ontdek het Franse wet vereis ’n 40 dae lange verblyf in die land voor hulle daar mag trou.
Tog is die paartjie vasbeslote om hul Paryse troue ’n onvergeetlike ervaring vir hul 200 gaste te maak; hulle het die Trianon Palace-hotel vir die geleentheid gehuur.