Al Pacino-aanhangers het baie om dié naweek na uit te sien – twee van die legende se flieks word uitgesaai. Saterdagaand kan jy ’n bietjie Britse drama te sien kry met Dear Frankie, en Sondagaand is daar ’n lekker animasiefliekv vir kinders en ’n fliek oor die grootste soektog in die geskiedenis vir volwassenes.
Vrydag 2 Mei
Heat
e.tv (DStv-kanaal 194) 20:30
Al Pacino en Robert de Niro in een fliek? Gewis! Die swaargewigte sê mekaar die stryd aan as onderskeidelik die hoof van ’n groep beroepsbankrowers en ’n speurder warm op hul spoor.
The Devil’s Advocate
M-Net Showcase (DStv-kanaal 108) 22:00
In hierdie een is Al Pacino die grootste booswig van almal – Lucifer. Keanu Reeves speel ’n grootmeneer-prokureur wat meer kry as wat hy verwag toe hy sy droomwerk losslaan. Dit is ook ’n kans om Charlize Theron in een van haar vroeë rolle te sien.
Saterdag 3 Mei
Dear Frankie
SABC3 (DStv-kanaal 193) 19:30
In ’n poging om hom van die waarheid te beskerm, antwoord Lizzie self die briewe wat haar negejarige seun aan sy pa skryf. Toe Frankie vra om sy pa te ontmoet, het Lizzie twee opsies: vertel Frankie die waarheid op kry ’n vreemdeling om hom as die pa voor te doen. Met Gerard Butler.
Sondag 4 Mei
Planes
M-Net (DStv-kanaal 101) 10:00
Pret vir die kinders. Dit is soos Cars, maar net in die lug; tog sal die kleingoed dol wees daaroor. Dusty Crophopper droom daarvan om deel te neem aan ’n wedren om die wêreld. Daar is net een ding wat hom terughou – sy hoogtevrees.
Zero Dark Thirty
M-Net (DStv-kanaal 101) 20:00
Hierdie fliek beeld die gebeure uit tydens die dekadelange soektog na Osama bin Laden. Dit word vertel vanuit die perspektief van die CIA-agent wat dit haar hoofdoel gemaak het om Osama te vind. Die karakter, Maya (Jessica Chastain), is glo ’n samestelling van ’n aantal werklike CIA-agente wat betrokke was by die soektog na Osama bin Laden.