Krap jy nog kop oor wat jy ná skool wil studeer? Wat van ’n klas oor jou gunstelingster? Ons grap nie! Hier is ’n paar kursusse oor bekendes wat regtig aangebied word:
Miley Cyrus
Skidmore-kollege in New York bied ’n kursus aan oor die twerk-prinses Miley Cyrus. Dié kursus, die sosiologie van Miley Cyrus: ras, klas, geslag and media, dek haar oorgang van Disney-ster tot volwassene, en dit delf onder meer in haar verhoogpersoonlikheid. Ongelukkig sal jy in jou vrye tyd moet leer twerk; dis nie deel van die leerplan nie.
Beyoncé
Rutgers-staatsuniversiteit in New Jersey het ’n klas oor dié sangeres. Die verpolitisering van Beyoncé bekyk Amerikaanse rasse-, geslags- en seksuele politiek na aanleiding van Beyoncé se musiek.
Jay-Z en Kanye West
Daar is ook ’n kursus, English 2169, oor Beyoncé se man, die rapper Jay-Z, en sy mede-rapper Kanye West wat aan die Universiteit van Missouri aangebied word. Jy sal leer hoe hulle die geskiedenis van hip-hop-musiek verander het en hul musiek met die werk van klassieke digters vergelyk.
Lady Gaga
Jy kan Mother Monster se pad na roem aan die Universiteit van Suid-Carolina bestudeer as jy inskryf vir die kursus Lady Gaga en die Sosiologie van Roem. Vreemd genoeg het Mathieu Deflem, die lektor wat die kursus aanbied, beroemd geraak nadat die storie oor sy kursus die internet getref het.
BRONNE: TEENVOGUE.COM, EONLINE.COM