Waar woon jy?
Ek en my man, Niel, huur tans ’n pragtige plaas tussen die Paarl en Franschhoek op die R45.
Som jouself in drie woorde op.
Lag, lewe, lief.
Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?
My eerste herinnering van ’n koskompetisie was in 1992 toe ek net vyf was; ek en my beste maatjie het nog aan ’n Shoprite-Checkers-bakkompetisie deelgeneem. Ek onthou nog ek het ’n plaatkoekie gebak in die vorm van ’n mannetjie, met Smarties op.
Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?
Proe terwyl jy kook; dit is dalk eenvoudige raad, maar te veel of te min van ’n bestanddeel maak of breek ’n gereg of gebak.
Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?
Ek sal die boonste gedeelte van ’n silindriese brood afsny en die brood uithol, dan smeer met ’n olyf-en-tamatie-duxelle, en daarna ’n laag elk mozzarella, parmaham, pikantrissie, pan-gebraaide-knoffel en kruie-sampioene. Dan sal ek weer die boonste laag van die brood opsit (wat ek ook met die duxelle sal smeer), dit vyf minute in die yskas sit en dit later in skywe sny.
Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?
Marinda. Rooi lippe en al, eg en opreg, het sy uit haar sagte hart gekook.
Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?
Plaaslik vir Sandra Prinsloo en Marius Weyers; ek sal dit geniet om in hul geselskap te wees. In my grootwordjare was hulle my drama-ikone (ek het ook drama geswot), en om my liefde vir kos en drama te kan deel met hulle sal ’n ongelooflike ervaring wees. In die buiteland definitief Eric Lanlard, die sogenaamde Cake Boy. Ek kyk gereeld wat hy op TV en Twitter bak en sal graag wil weet wat hy van Suid-Afrikaanse gebak dink.
Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?
Potjiekos. Dit skep vir my die idee van samekoms, kuierkos, potkos, wat-jy-in-die-yskas-het-kos, braaivleis, sagtevleis en vuur, mielies en aartappels. En ook koeksisters. Dis ’n egte teepartytjie-genot. Stroopsoet, tradisioneel en ’n liplekkerwoord in enige Suid-Afrikaanse taal.
- Kokkedoor word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai
- Volg ook Kokkedoor op Twitter: www.twitter.com/kokkedoorapp