Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Ultimate Braai Master: Hier is die finaliste

$
0
0

Hier is hulle, die 15 spanne wat gekies is om deel te neem aan vanjaar se taaiste buitelugkookkompetisie: die derde seisoen van Ultimate Braai Master!

Die verfilming van die werklikheidsprogram begin binnekort en word op Donderdag 11 September op e.tv die eerste keer uitgesaai.

Ná ’n besige maand met vier streeksoudisies oor die land het die aanbieder Justin Bonello die top-15-spanne aangewys, wat uit ’n groep van 50 finaliste saamgestel is.

Ontmoet die spanne:

Santa Anna's

Die sakevennote Piet Marais (29) en Frik Oosthuizen (24) het ingeskryf om die geleentheid te kry om die padreis van ’n leeftyd te onderneem en om ’n ruk weg te kom van die besige stadslewe. Terwyl Braai Master Piet wel teleurgesteld is dat hy die Wes-Kaapse wildesampioenseisoen misloop en Braai Buddy Frik sy meisie en hond gaan mis, het hulle groot drome sou hulle wen. Hulle wil onder meer hul onderneming finansier en geld aan die Rhino Fund skenk. Hulle dink die eliminasierondtes gaan die moeilikste uitdaging wees. Wat is hul mantra as span? “Ná ’n lekker braai kan jy enigeen vergewe, selfs jou eie familielede.”

Braai Dukes

Die neefs Milani Mohloti (21) en Kevin Jonas (21) is twee uiters gemotiveerde studente van Durban wat hul eie restaurant wil oopmaak as hulle wen. Hul mantra is: “As iets die moeite werd is om te doen, is dit die moeite werd om reg te doen.” Tog erken hulle om in afgeleë plekke en in moeilike omstandighede te braai gaan die moeilikste uitdaging wees. Hierdie dinamiese duo glo hulle gaan dit mis om tyd saam met vriende en familie deur te bring, maar die Braai Dukes is reg vir ’n groot avontuur!

Bushes Gone Wild

Sherwyn Weaich (24) en Zane Jacobs (36), twee vriende van Durban, het vir die derde seisoen van Ultimate Braai Master ingeskryf omdat hulle lief is vir kos, goeie geselskap en omdat hulle ’n oog het op die prysgeld! As hulle wen, wil Sherwyn se gesin met ’n lang vakansie bederf en Zane wil van die geld gebruik om hul liefdadigheidsorganisasie, Full Tummies, Happy Smiles, te bevorder. Sherwyn sê niks oor die kompetisie skrik hom af nie, maar Zane erken die onbekende boesem ’n bietjie vrees by hom in. Hul mantra is “Bushies, hoe lyk ons kombinasie?” en hulle sien uit na wat hulle noem die kosreis van ’n leeftyd!

Ala Mofepe

Die Pretoriase sjefs Freddy Buyane (43) en Jabu Mahlangu (33) is albei groot Jamie Oliver-aanhangers, en hulle glo hul deelname aan die kompetisie gaan hul vaardighede help slyp en hulle so suksesvol soos hul held help raak. Met dit as motivering, maak dit sin dat hul mantra “Vaardigheid, smaak en karakter” is. Hul menings verskil oor wat die moeilikste deel van die kompetisie gaan wees; Braai Master Freddy dink die finale rondte gaan die moeilikste deel wees, en Braai Buddy Jabu sien op teen nageregte en poedings op ’n oop vuur berei.

Simply Sisters

Moenie jou laat flous deur die feit dat twee vroue aan Ultimate Braai Master deelneem nie, want Busisiwe Dhladhla(32) en Thembeka Ngcobo (31) het ingeskryf met die oog op die titel; hul mantra is immers “We shall overcome.” En as hulle dit regkry, wil Busisiwe ’n shisa nyama oopmaak, en Thembeka ’n klein koffiekroeg. Hul helde is twee sterk vroue, Oprah en prinses Diana, so hierdie span is een om dop te hou, al sê Braai Master Busisiwe sy sien op teen visvang!

Kaiings and Afval

Die Johannesburgse paartjie Tippie Enslin (43) en Santie Mostert (43) is albei passievol oor die natuur en kos, en dit is hoekom hulle vir die kompetisie ingeskryf het. Hul mantra is “Vat een dag op ’n slag en geniet die rit”, en dit is presies die houding wat jou na die eindrondte gaan besorg. As hulle wen, wil hulle net reis en heerlike kos eet, maar eers moet hulle twee maande mekaar, die koue en die langpad oorleef! Braai Buddy Santie sê sy gaan haar bed en ondervloerse verhitting die meeste mis. Tippie gaan weer sy honde mis.

Smokey and the Bandit

Barend (31) en Lente Deminey, twee sibbe van Durban, se mantra is “Jy gaan nooit weet nie, tensy jy dit probeer”, en dit is presies wat hulle gedoen het! Hulle het ingeskryf om te sien waartoe hulle in staat is, nuwe uitdagings te beproef en die onbekende te verken. Dis presies wat hulle van hierdie seisoen van Ultimate Braai Master kan verwag. Hulle wil graag ná elke uitdaging verbeter en ontwikkel, en as hulle wen, wil Braai Master Barend die geld vir sy kinders se studies gebruik. Braai Buddy Lente wil Antarktika besoek.

Team Tenacity

Die paartjie Rod Hemphill (60) en Lesley Verhoef (59) van Kaapstad het vir Ultimate Braai Master ingeskryf omdat hulle lief is vir avontuur. Terwyl hulle meen die moeilikste deel van die kompetisie is om koelkop te bly terwyl die ander kop verloor, dink Braai Buddy Lesley die wag terwyl die beoordelaars ’n besluit maak, is dalk moeiliker. As hulle wen, gaan die geld gevoeg word vir die fonds vir hul doenlys, en met die mantra “Yes we can” is dit hulle dalk beskore!

Sugar and Spice

Die beste vriende Celeste Raynard (47) en Chantal Geerdes (43) deel nie net ’n passie vir kos en reis nie, hulle deel ook ’n vriendskap. Hul mantra is “Deur dik en dun, siekte of sonde”. Hulle maak nou reg vir die groot toets – van hul kookvernuf, fiksheidsvlak, intellek, integriteit tot die onbekende omarm. As hulle wen, wil Braai Master Celeste haar boek voltooi en laat publiseer, en Braai Buddy Chantal wil van die geld aan ’n diereskuiling skenk.

Tong in Cheeck

Die vriende Penny Rider (55) en Dee McCool (55), onderskeidelik van Johannesburg en Kaapstad, sê hulle is “Hier om te wen”, en as dit so gebeur, gaan hulle die prysgeld gelykop deel. Braai Master Penny wil ’n koswa op die been kry sodat sy organiese, gesonde kitskos kan verkoop. Hulle het vir die kompetisie ingeskryf omdat hulle besef het hulle kan suksesvol daarin wees – en hulle hou van ’n lekker avontuur! Hulle dink die uitdagendste deel van die kompetisie is die onbekende en die lang ure op die pad.

The Fire Feeders

Die eerste en enigste span van Port Elizabeth in die top-15, die vriende Stuart Smith (42) en Bretton-Anne Moolman (45), sê Ultimate Braai Master gaan moeilik wees, maar hulle is reg vir die uitdaging. Stuart het die span ingeskryf vir die kans om op die padreis van ’n leeftyd te gaan en Bretton-Anne het ingestem om in die avontuur te deel. As hulle met die louere wegstap, wil Stuart sy deel gebruik om ’n rondreisende koswa op die been te bring sodat hy die land kan deurreis, en Bretton-Anne wil ’n motor koop.

Weskus Braaiers

Die vriende John Stewart Grundlingh (35) en Bruno Julian Mori (34) van die Weskus het ingeskryf vir hul liefde vir braai en ter gedagtenis aan hul vriend wat ’n jaar gelede oorlede is. As hulle wen, wil John ’n huis met ’n groot braai-area bou, terwyl Julian ook ’n koswa in die oog het. “Moet nooit tou opgooi nie, en lewe voluit” is hul mantra. Julian sê hy gaan branderplankry en visvang die meeste mis, terwyl John sê hy gaan sy vrou die meeste mis (al bieg hy dit is dalk die veiligste antwoord!).

Mix Masala

Die plaasstalbestuurder Sujith Singh (40) en die troubeplanner Prishen Maharaj (31) is albei van KwaZulu-Natal, en het ingeskryf om mense te ontmoet en omdat hulle daarvan hou om met kos te eksperimenteer. Sujith is opgewonde om dit ten toon te stel wat Durban kosliefhebbers kan bied. As hy wen, wil hy sy gesin op ’n vakansie neem en “spoggerige” kookgereedskap te koop. Prishen wil sy ouers met ’n welverdiende vakansie bederf. Hul mantra is “Begin nou kook om stres te verminder”, maar hulle erken die grootste uitdaging is dalk die verassings wat op hulle wag en dat hulle net sekere bestanddele kan gebruik.

Delicious Foodies

Braai Master Brigitte Leclerq en haar ma, Braai Buddy Lynn (48), beplan om hul mantra, “Eet lekker, lag baie en hê baie lief”, uit te leef. Hulle het ingeskryf om hulself uit te daag en om weg te kom van die stadsgejaag. As hulle wen, wil Brigitte ’n kothuisie in Bonnievale bou, terwyl Lynn graag haar deel van die prysgeld wil belê. Hulle meen die moeilikste deel van die kompetisie gaan wees om onbekende geregte op ’n oop vuur te berei.

Tikka Boys

Die Kaapstadse vriende Mohamed Yusuf Sujee (26) en Stephen Nandes (26) is albei junior sous-sjefs met groot drome. As hulle wen, wil Yusuf graag sy eie restaurant begin, terwyl Stephen wil reis en sy gesin bederf. Hul mantra is “Moet nooit brand sê nie”, en ons hou duim vas hulle hou daarby! Hulle hoop om ondervinding op te doen en die program gebruik om hul braaivernuf ten toon te stel. Hulle bieg die idee dat hulle nie weet wat om te verwag nie, is nogal skrikwekkend.

Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>