Beurtkrag het die afgelope paar weke menigte huishoudings in donkerte gedompel, maar gesinne kan vanaand die ligte vir ’n goeie doel afskakel.
Deur jou huis se ligte net een uur af te skakel, kan jy deel wees van die Earth Hour-projek wat klimaatverandering wil teenwerk.
En met Kaapstad wat die amptelike hoofstad vir Earth Hour 2014 is, het Suid-Afrikaners geen verskoning nie.
Meer as 7 000 stede en dorpe wêreldwyd neem aan die projek deel.
Die uur sonder rekenaars en televisieskerms kan jou boonop ’n blaaskans gee om gehaltetyd met jou gesin in te ruim:
- Steek die kerse aan en pak ’n slag weer die bordspeletjies en speelkaarte uit. Ou gunstelinge soos Scrabble en Monopoly of kaartspeletjies is ’n lekker manier om tyd saam met jou gesin deur te bring.
- Lees ’n boek. Breek weg van die TV-skerm se gloed en lees ’n boek by kerslig.
- Gesels met jou gesin oor wat die afgelope week in jul lewe gebeur het en wat jul toekomsplanne is.
- Braai saam met jou gesin en vriende.
Earth Hour vind vanaand van halfnege tot halftien plaas. Skakel jou huis se ligte en toebehore af om deel te wees van die stryd teen klimaatverandering.