Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Fliekvlooi: wat gebeur by rolprentteaters

$
0
0

Dié wat lankal weer lus is vir ’n superheldfliek van gehalte kan nader staan vir Captain America: The Winter Soldier (13 G), die opvolg op Captain America: The First Avenger (2011) uit Marvel Comics se stal. Steve Rogers – oftewel Captain America (Chris Evans) –  is ’n soldaat wat tydens die Tweede Wêreldoorlog met behulp van ’n serum van ’n liggewigbleeksiel in ’n spiertier verander is. Hy is gevries, in die moderne era ontdooi en het in The Avengers (2012) die wêreld help red. Nou werk hy vir die geheime organisasie Shield, maar raak ál onrustiger oor hoe hulle wêreldgebeure manipuleer sonder om die wil en vryheid van individue in ag te neem. Toe Shield teen hom draai, breek Cap weg en met behulp van sy mede-Avenger Black Widow (Scarlett Johannson) vlek hy ’n sameswering oop. Hy word boonop geteiken deur nog ’n supersoldaat (en spook uit sy verlede) , die Winter Soldier.

Die fliek ontvang lof uit verskeie oorde. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee die fliek 93 persent en beskryf dit as “spanningsvol en polities skerpsinning. Captain America: The Winter Soldier is ’n voortreflike aflewering in die Avengers-reeks en sal beslis Marvel-aanhangers tevrede stel”.

Die Britse filmtydskrifte Empire en Total Film gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Dan Jolin som die fliek so op: “Die klimaks is dalk te voorspelbaar, maar The Winter Soldier vind baat by ’n stemming wat minstens die eerste helfte die fliek onderskei van ander, voor die hand liggender Marvel-flieks.” Total Film se Matt Maytum skryf: “Met ’n reeks bevredigende aksietonele en ’n vinnige pas wat (danksy ’n gevatte draaiboek) dikwels deurspek is met skerpsinnighede staan The Winter Soldier uit as ’n uiters bevredigende lokettreffer.”

Agent 2000: Die Laksman (10-12OG) is die Afrikaanse rolprentbedryf se poging om ’n plaaslike weergawe van die Amerikaanse tienerspioenfliek te skep. Paul Loots (Roepman) speel Walter du Toit, oftewel Agent 2000, ’n 14-jarige spioen wat as gevolg van sy pa se voorliefde vir uitvindsels ’n arsenaal hulpmiddels tot sy beskikking het. ’n Gemaskerde boelie bekend as Die Laksman lei ’n terreurveldtog teen die leerders by die Hoërskool Randburg. Die hoof van die beheerliggaam is keelvol daarvoor en stel die skoolhoof, mnr. Von Brakel (Cobus Visser), voor ’n ultimatum: trek Die Laksman vas of hy is sy werk kwyt. Von Brakel roep dadelik Agent 2000 se hulp in, maar die taak wat aanvanklik vir Walter maklik lyk, ontaard gou in ’n nagmerrie.

Rochélle Human van Beeld dink die fliek is heel skaflik en gee dit twee sterre. “Moenie Agent 2000: Die Laksman op die eerste halfuur takseer nie. Daar is yslike gate in die storielyn, die kamerawerk lyk meer soos ’n hoërskoolproduksie as ’n rolprent en die karakters is stokkerig en vergesog,” skryf sy. “Aanvanklik oortuig Loots nie werklik nie, (maar) soos die fliek ontwikkel, groei Walter in sy skoolbaadjie in. Agent 2000 hou ook op hakkel en stotter, en ontluik as die gladde speurverhaal wat dit probeer wees: opwindend en vol selfvertroue.”

Nog ’n Suid-Afrikaanse fliek wat vandeesweek uitgereik word, is Four Corners (13 DTG), ’n misdaaddrama wat op die Kaapse vlakte afspeel en handel oor Farakhan (Brendon Daniels van Die Boland Moorde), ’n generaal in die 28’s-bende, en sy vervreemde 13-jarige seun, Ricardo (Jezzy Skei). Farakhan word uit die tronk vrygelaat en besluit hy is klaar met die bende, maar ’n bende is nooit werklik klaar met jou nie. Intussen nader Gasant (Irshaad Ally)  Ricardo om by die 26’s aan te sluit.

Die fliek is goed ontvang. Leon van Nierop gee dit vier sterre en beskryf dit as “ ’n rowwe, tawwe fliek wat die volle spektrum van die bendeprobleem probeer bekyk”. Hy is veral beïndruk met die natuurlike toneelspel en dialoog. Die Burger se Laetitia Pople gee dit drie sterre. “Wat plek-plek pla, is die stadige tempo – dis gewoon te trapsuutjies vir die soort lewe wat dié karakters lei,” skryf sy. “Benewens dié klein haakplekke word die prent hoog aanbeveel. Dit gee nabye insae in die bendelewe en kom outentiek voor. As ’n vermaakfliek is dit hoogspannend, maar dit is te betwyfel of ’n Suid-Afrikaner dit vermaaklik sou vind. Van die verskriklike gebeure hier sny net te na aan die been.”

Vir die jongklomp en dié wat jonk van gees is, is daar Muppets Most Wanted (OT), die opvolg op The Muppets (2011), wat dié geliefde vilt-mensies weer nuwe woema gegee het. Die Muppets se agent, Dominic Badguy (die Britse komediant Ricky Gervais), het hulle oortuig om ’n Europese toer te onderneem. Maar voor jy kan sê mes word Kermit die padda ontvoer en vervang deur ’n dubbelganger, die bobaasmisdadiger Constantine. Oudergewoonte kom wys almal van Céline Dion tot Tom Hiddleston ook gesig.

Die meeste kritici hou van die fliek. Dit kry 78 persent op Rotten Tomatoes en 61 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Op Rotten Tomatoes is die konsensus: “Al bereik die fliek nie die heerlike hoogtes van The Muppets nie, bevat dit genoeg slim grappies, aansteeklike liedjies en verskynings deur bekendes om aanhangers van alle ouderdomme tevrede te stel.”

Empire se Helen O’Hara gee dit drie sterre. “Dis amper so goed soos die vorige fliek – hierdie keer se veel bekender sterre vergoed ietwat vir ’n deurmekaarder intrige – en dis pret, maar die Muppets self kry te min aandag,” skryf sy. Matt Brunson van clctl.com gee dit drie sterre en skryf: “Muppets Most Wanted is nie so bevredigend soos The Muppets nie, maar dis steeds ’n heerlike ervaring, vol snaakse grappies, slim verskynings deur bekendes en ’n intrige wat nie grond vat nie.”

Nog een van vanjaar se Oscar-benoemde flieks arriveer vandeesweek. Philomena (13 T) is gegrond op die ware verhaal van die bejaarde Ierse vrou Philomena Lee (Judi Dench, wat ’n Oscar-benoeming vir haar spel gekry het), wat as tiener die lewe geskenk het aan ’n buite-egtelike kind en toe na ’n klooster gestuur is. Op driejarige ouderdom word die seuntjie deur ’n Amerikaanse paartjie aangeneem en nou, 50 jaar later, probeer Philomena hom opspoor. Teësinnig raak die siniese joernalis Martin Sixsmith (die Britse komediant Steve Coogan) by haar verhaal betrokke en help haar met haar soektog.

Die meeste resensente hou baie van die fliek. Dit kry 76 uit 100 op Metacritic en 92 persent op Rotten Tomatoes. “Philomena, gebaseer op ’n roerende ware verhaal en geanker met nommerpas-vertolkings deur Judi en Steve, bied ’n drama wat kykers van alle ouderdomme diep sal raak,” is Rotten Tomatoes se gevolgtrekking.

Total Film se Philip Kemp gee dit vier sterre. “Dit klink soos ’n regte tranetrekker, né?” skryf hy. “Maar dis niks van die aard nie, te danke aan Stephen Frears se veerligte regie, ’n vaardige draaiboek deur Steve en Jeff Pope en die deurgaans vermaaklike wisselwerking  tussen Steve en Judi.” Ann Hornaday van die Washington Post gee dit drie en ’n half uit vier sterre en skryf: “Die kern van hierdie slim, hartverskeurende, diepsinninge storie is die klem op die onwrikbaarheid van geloof wat te staan kom teen onverstaanbare wreedheid.”

Sandra Visser


Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>